Wêreldwye voedselpryse het in Maart ’n rekordhoogtepunt bereik aangesien uitvoerprodukte vanaf Rusland en Oekraïne, die wêreld se grootste graanprodusente, grootliks in daardie lande vasgevang is en nie markte kan bereik nie.

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se voedselprysindeks was in Maart gemiddeld 12,6% hoër as in Februarie, wat ‘n reusesprong is en die hoogste vlak sedert dié indeks se ontstaan in 1990 bereik het.

Wêreldwye tekorte aan koring, gars, mielies, hawer en sonneblomolie word beleef weens die oorlog in die Oekraïne wat reeds ses weke lank woed.

Rusland en Oekraïne produseer onderskeidelik 30% en 20% van die wêreldwye koring- en mielievoorrade.

Dié VN-agentskap se graanprysindeks het in Maart met ‘n rekord 17% gestyg terwyl sy groente-olie-indeks met 23% opgeskiet het – óók ’n rekordvlak.

Die FAO het ook sy projeksie van wêreldkoringproduksie vanjaar tot 784 miljoen ton vanaf 790 miljoen in Maart verminder omdat hy glo dat 20% van Oekraïne se winteroes dalk nie vanjaar geoes sal kan word nie.

Die jongste styging weerspieël ook rekordstygings in die pryse van plantaardige olies, graan en vleis, terwyl dié van suiker en suiwelprodukte ook aansienlik gestyg het.

Reuters berig ander groot graanproduserende lande, insluitend die VSA, Kanada, Frankryk, Australië en Argentinië, probeer produksie verhoog om tekorte in die voorsieningsketting aan te vul.

NAMIBIË

Namibië se grootste graanverwerkingsmaatskappy, Namib Mills, het vroeër aangekondig die pryse van koringmeel, pasta, brood, rys, mieliemeel, kitspap en suiker styg in April.

Dit val saam met ’n verdriedubbeling in die prys van kookolie en die baie duurder brandstof, wat tot stygings in die pryse van ander kos-items sal lei.

Die Koalisie vir ’n Basiese Inkomstetoelaag (BiG) in Namibië maan die stygende voedselpryse sal ‘n vernietigende uitwerking hê op die reeds arm Namibiërs wat verder in armoede gedryf sal word.

“Dit hou ’n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid, gesondheid en onderwys van baie Namibiërs in. Dit sal dit vir sukkelende Namibiërs selfs moeiliker maak om die basiese dinge wat lewe onderhou, te bekostig,” sê die koalisie in ’n verklaring.

“Mense sal meer geld aan voedsel moet bestee, wat beteken hulle het minder geld beskikbaar vir gesondheidsorg, onderwys en vervoer,” lui die verklaring.

’n Onlangse verslag deur die Wêreldbank toon 64% (1,6 miljoen) van Namibiërs leef in armoede en is nie in staat om die basiese dinge te bekostig vir ’n eenvoudige leefwyse nie.

Volgens die 2020 Wêreldvoedselkrisis-verslag van die VN is 859 898 Namibiërs voortdurend gestres oor waar hulle hul volgende maaltyd gaan kry, waarvan 447 577 humanitêre hulp nodig het.

Wanvoeding bly die grootste oorsaak van sterftes onder kinders onder die ouderdom van vyf jaar in Namibië.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.