Dr. Cornelis van der Waal – Plantegroei oor die grootste dele van Namibië is tans ondergemiddeld vir hierdie tyd van die jaar.

Gebiede wat tans die ergste geraak word, is die oorgrote dele van die Omahekestreek asook die oostelike dele van die Otjozondjupastreek. Satellietkaarte van Oktober 2022 dui aan dat weidingstoestande verlede jaar nog veel groener was as nou.

Dit is met uitsondering van die verre suidweste van die ||Kharasstreek, waar bogemiddelde groeitoestande tans ervaar word. Dit is egter nou die begin van die reënseisoen in Namibië se somerreëngebiede, wat beteken enigiets is moontik.

INTERPRETASIE

Die kaarte behoort soos ‘n verkeerslig gebruik te word: As ’n gebied rooi bly soos die reënseisoen vorder, behoort die “rooi ligte” te flikker vir die moontlikheid van ondergemiddelde voerproduksie. As ‘n gebied vir die groter deel van die seisoen groen bly, is die kans die beste vir bogemiddelde voerproduksie. Verskillende scenario’s kan ook ontwikkel, byvoorbeeld waar ‘n gebied die seisoen in rooi begin, maar naderhand groen raak, of andersom. Die kaarte word deur Agri-Ecological Services saamgestel.

HOEKOM BELANGRIK?

Veeproduksie in Namibië is grotendeels van die produktiwiteit van weivelde afhanklik, wat tot baie lae vlakke gedurende erge droogtes kan daal.

Die wisselvalligheid bied ernstige bestuursuitdagings om diere se voedingsbehoeftes met die beskikbare weiding te balanseer, asook om die agteruitgang van die grond te voorkom.

Dié inligting kan aandui watter dele van die land moontlik die ergste deur droogte geraak kan word as dit aan die einde van die reënseisoen kom. Dit gee ook voldoende tyd om droogtehulpaksies te beplan.

HOE DIT WERK

Die sleutelkomponent van die vroeë waarskuwingstelsel is afstandwaarnemingstegnologie wat vrylik beskikbaar is en – naby aan ware tyd – die aktiewe plantegroei oor die hele Namibië heen meet.

Deur die huidige plantegroei-aktiwiteit met die tienjaargemiddeld vir een spesifieke gebied te vergelyk, kan ’n objektiewe idee van die status van die weiding verkry word.

Kaarte wat die weidingstatus uitbeeld, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot einde Mei) uitgereik en is aanlyn beskikbaar by http://www.namibiarangelands.com.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.