Terwyl ’n hoërisiko-jaar vir swak reën voorlê, is dit nodig om te onthou dat El Niño-toestande nie noodwendig geen reën beteken nie, maar eerder dat die verspreiding daarvan oor tyd swak kan wees.

“Dit kan baie op een slag reën en vir langer periodes tussen-in droog wees.”

So sê die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, oor die komende reënseisoen.

Van den Berg sê terselfdertyd word daar tot sowat 7 November erge warm toestande en ligte reën – minder as 20 mm – in die noordoostelike dele van die land verwag. Verder suid word baie reën oor die korttermyn verwag.

“Tydens die laaste deel van November kan daar ook weer ’n bietjie reën oor die noordelike dele van die land voorkom. Oor die kort- en mediumtermyn is toestande egter nog ongunstig vir reën, met baie warm toestande wat sal voorkom,” het hy gesê.

EL NIÑO

Van den Berg sê vanjaar word El Niño-toestande – wat reeds in Mei begin ontwikkel het –gehandhaaf. “Dit het te doen met die verwarming van die seeoppervlaktemperature van die Stille Oseaan tussen Suid-Amerika en Australië.

“Die El Niño-toestande is steeds besig om te ontwikkel, maar is nie so sterk soos in die jare 2015 en 2016 nie – dog sterk genoeg om ’n negatiewe impak op Namibiese weerpatrone te hê,” sê Van den Berg.

Daarbenewens is die water van die Indiese Oseaan ook warmer teen die kus. Dit lei daartoe dat goeie reëns in Oos-Afrika verwag word, maar dit kan die kanse op reën oor Namibië redelik ongunstig maak. Dit geld eintlik vir groter dele van Suider-Afrika soos Botswana, Zimbabwe en dele van Mosambiek.

“Dit wil voorkom asof die komende reënseisoen ondergemiddelde reën vir Namibië kan beteken. Ons is veral bekommerd oor verwagte reënneerslae in Februarie en Maart volgende jaar, wat die kern van produksietye en vir weiding is.

“Die verwagte reëntoestande lyk minder gunstig vir vanjaar – hopelik is die verspreiding van reën beter, wat die impak hiervan kan versag,” het hy gesê.

NAMIBIESE WEERDIENSTE

Dié vooruitskouiing kom kort nadat die Namibiese meteorologiese dienste gesê het hy voorsien ’n gemiddelde reënjaar in die algemeen vir Namibië, ten spyte daarvan dat El Niño-toestande posgevat het en die Indiese Oseaan warmer as normaal is.

Dit aldus die seisoenale weervooruitskouiing wat Maandag 9 Oktober uitgereik is. Hiervolgens word ’n gemiddelde tot bogemiddelde reënjaar vir die oorgrote dele van die land vanaf Oktober tot Desember verwag, terwyl normale tot ondergemiddelde reënneerslae in die suide van die land verwag word.

Dit kom terwyl Namibië tydens die vorige reënseisoen in die algemeen swak verspreide of ondergemiddelde neerslae ervaar het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.