Nog nooit in Meatco se geskiedenis was daar so ’n algehele ineenstorting van bedryfsmarges soos nou nie.

Inteendeel, die vleisfabriek het sedert Januarie 2020 reeds opgehoopte verliese van N$527,7 miljoen getoon. Die afgelope boekjaar se verliese alleen sal na verwagting teen Januarie op N$100 miljoen staan.

Terselfdertyd was daar geen vleisuitvoere na Noorweë in September vanjaar nie – ten spyte daarvan dat dit Meatco se mees winsgewende mark is en ’n uitvoerkwota van altesaam 1 600 ton vleis vir Namibië in plek is.

Die jongste ontleding is verlede week deur Rainer Ritter, ’n onafhanklike ontleder en voormalige uitvoerende hoof van Namfisa, bekendgemaak.

“Die lae pryse wat Meatco in Noorweë en die Europese Unie (EU) behaal, is ’n bemarkingsramp en die uiteinde daarvan is swak kontantvloei,” het Ritter gesê.

Dit kom terwyl Meatco beesprodusente tans glo sowat N$320 miljoen skuld – en die geld aan sommiges produsente reeds sedert Julie verskuldig is.

TEIKEN

Dit kom ten spyte daarvan dat Meatco vanjaar ’n goeie deurset van slagbeeste gehad het – tot dusver hoër as vorige jare se gemiddelde. Teen September is bykans 50 500 beeste geslag – wat 84,2% verteenwoordig van die 60 000 slagbeeste wat Meatco per jaar kort om winsgewend te kan wees.

“Dit blyk dat die teiken van 60 000 nou eintlik baie hoër moet wees as gevolg van die lae bruto winsmarges wat behaal word,” het Ritter gesê.

Meatco sê die onderneming is winsgewend sodra dit 60 000 beeste per boekjaar kan slag. Dit kom neer op 5 000 beeste wat per maand geslag moet word. In Augustus het Meatco 7 550 beeste geslag en in September 7 388.

LOKVAL

“Ten spyte daarvan dat Meatco beesprodusente miljoene skuld, dwing die droogte hulle om aan te hou om hul beeste te bemark. Meatco bly steeds die markleier omdat dit hoë pryse beloof,” het Ritter gesê.

Hy het Meatco se maandelikse pryse met dié van Beefcor vergelyk, wat tydens Mei tot September ’n laer prys as Meatco betaal het omdat genoegsame slagdiere dan beskikbaar is. Die verskil in pryse is tot N$4,00 per kg.

Terselfdertyd het gemiddelde veilingpryse sedert September opnuut gedaal.

KWOTA

Ritter verduidelik dat die hoogste pryse vir Meatco in die verlede in die Noorweegse mark behaal het, gevolg deur markte in die EU asook die Verenigde Koninkryk (VK).

Namibië se Noorweegse kwota staan op 1 600 ton – 400 ton is aan Beefcor toegestaan en 1 200 ton aan Meatco.

“In 2022 is die kwota nie gevul nie en is net 1 291 ton uitgevoer. Tot dusver blyk dit dat nog minder in 2023 na Noorweë uitgevoer sal word, met uitvoersyfers wat tans op sowat 900 ton staan. Terwyl geen uitvoere in September na Noorweë gedoen is nie, het uitvoere na die EU verhoog en is dit aansienlik meer as in 2022.

“Verlede jaar het dié mark die tweede beste pryse betaal en gegewe die swak wisselkoers, kan daar goeie opbrengste in die EU behaal word, sou bemarking professioneel kon geskied.”

Ritter voeg by dat uitvoere na die VK in September ook 2022 se totale uitvoere na dié mark verbygesteek het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.