Die onafhanklike konsultant dr. Detlof von Oertzen,’n kernfisikus en energiekenner en direkteur van VO Consulting, het Dinsdag tydens ’n paneelbespreking van die Namibië Wetenskapvereniging gesê hoewel Namibië goed geleë is om ‘n betekenisvolle rol in die globale energie-evolusie te speel, moet die land realisties bly om te verseker hy baat by geleenthede in die hernubare energiebedryf.

“Dis baie belangrik dat ons begin om besluite op feite te baseer. Dat die irrasionele oordrewenheid en hierdie inflasionêre stories wat ons hoor versag kan word, en ’n sin van realisme geskep word met die vraag van wat ons moet doen om by hierdie sprong na groen waterstof – wat baie geleenthede inhou – te baat.”

Hy het bygevoeg Namibië is besonder goed geleë om te baat by die plan om groen waterstof te vervaardig, want “dit maak soveel sin om dit te doen in ‘n land wat deurdrenk is met son en wind”.

Hy het egter genoem “ons moet terselfdertyd nie die mag gee aan diegene wat bloot beleggers is en dalk nie ons sienings in terme van Namibië se ontwikkeling deel nie”.

Die gespreksessie deel die titel van ‘n referaat wat verlede jaar deur Von Oertzen gepubliseer is, en het paneellede gevra om die “Kwessies, uitdagings en geleenthede om groen waterstof in Namibië te vervaardig” te bespreek.

WAARSKUWINGS

Von Oertzen het Dinsdag gewaarsku “die irrasionele oordrewenheid wat ons soms sien en hoor, veral deur mense wat betaal word om oor hierdie dinge te praat, weerspieël nie die werklike kapasiteit (van groen waterstof-ontwikkeling) om sakegeleenthede na Namibië te bring nie. Ek is bekommerd hieroor.”

“Ek sou dink ’n meer nederige benadering oor wat ons werklik kan [doen] en wat ons trajek is, sou ons bevoordeel,” het hy gesê.

Hy het gemaan ongeëwenaarde beleggings kan potensiële slaggate meebring en dat Namibië moet verseker die agendas van internasionale beleggers stem ooreen met die land se ontwikkelingsdoelwitte.

Namibië het verlede jaar internasionale opskrifte gehaal met die aankondiging dat Hypen Hydrogen Energy aangewys is om ‘n groenwaterstofprojek ter waarde van N$146 miljard – amper so groot soos die plaaslike ekonomie – in die Tsau //Khaeb Nasionale Park naby Lüderitz te ontwikkel.

“Om eerlik te wees, ek glo nie om jou ontwikkelingsroete aan kommersiële ontwikkelaars uit te kontrakteer sal noodwendig tot uitkomste lei wat optimaal vir Namibië sal wees nie,” het hy gesê.

Von Oertzen het verder gewaarsku die groot finansiële syfers skep ‘n “onnatuurlike sterk hefboom in terme van onderhandeling oor wat die beste vir Namibië is teenoor wat die belang van die belegger is”.

Die konsultant se referaat, wat in Desember gepubliseer is, het ook gewaarsku “opgewondenheid dat groen waterstof Namibië se ekonomie gaan transformeer, bly voortydig. Realisme is nodig om die land se berugte stadige nakoming van beloftes – wat noodsaaklik is vir uitbreidingsprogramme – te verander.”

Hy het bygevoeg “om onder meer burokratiese struikelblokke te takel, die lewering van geskikte grond vir ontwikkeling te versnel en toegang tot water te skep is voorbeelde van kwessies wat dringend aangeroer moet word”.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.