Namibiërs kan tekorte in die voorsiening van ingevoerde produkte verwag indien die staking van werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) nie beëindig word nie.

Die lewering van vrag uit Suid-Afrika geskied tans twee of meer dae later aangesien doeaneklarings by grensposte deur die staking lamgelê is, sê mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die FP du Toit-groep.

“Die staking is baie, baie sleg vir ons wat vrag vanaf Suid-Afrika na buurlande vervoer, want dit maak optyd-aflewerings onmoontlik,” sê hy.

Mnr. Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibiese Logistiekvereniging (NLA), beaam dit en sê die staking lei tot erge opeenhopings van vragverkeer by grensposte.

“Ons het gehoop dit sou nou al iets van die verlede gewees het, maar dit is nie. Ek weet van ’n Namibiese vragmotor wat tussen 08:00 en 20:30 Sondag nie een meter beweeg het in die ry by een van die grenspos nie.”

Foto’s van lang rye vragmotors wat by die Nakop- en Vioolsdrift-grenspos wag om deur te beweeg na Namibië, was die afgelope week gereeld in die sosiale media te sien.

Die Inkomstediens het ander staatsdepartemente en agentskappe se personeel gevra om by sy kantore help, maar volgens mnr. Reuben Maleka, woordvoerder van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) in Suid-Afrika, werk dit nie omdat hulle self personeeltekorte beleef en nie die tegniese vaardighede het om hand by te sit nie, berig Netwerk24.

Senior bestuurders is volgens die VSA gevra om te help om vragmotors by grensposte by te staan met doeaneklaring, maar omdat hulle die stelsel ken nie, is vragmotors sonder die nodige noulettendheid deurgelaat. Maleka meen die land verloor inkomste uit in- en uitvoerheffings omdat die bestuurders nie die inhoud en waarde van die vrag behoorlik kan verifieer nie. Hy sê in ‘n verklaring misdadigers sal die situasie uitbuit weens die gebrek aan behoorlike beheer by die grensposte.

Terblanche sê die FP du Toit-groep se vragmotors vervoer vrag na agt lande in die streek. “Ons moes ons kliënte inlig dat die optyd-aflewering van vragte nie moontlik is nie.”

Werknemers eis ’n salarisverhoging van 12%, terwyl die Inkomstediens vir hulle 1,39% aangebied het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.