’n Negatiewe PCR-toetsuitslag vir Covid-19 is die naweek ná ingryping en gesprekke tussen onder meer die ministers van gesondheid en maatskaplike dienste en omgewing, bosbou en toerisme ook as toelatingsvereiste vir besoekers aan Namibië aanvaar. President Hage Geingob het Vrydag tydens die laaste maandelikse aankondiging oor Covid-19-regulasies by Staatshuis aangekondig buitelandse reisigers moet vir toelating tot die land ’n Covid-19-inentingsertifikaat by grensposte toon soortgelyk aan die vereiste vir reisigers om sertifikate van inenting teen geelkoors in sommige lande te toon. Die gebrek aan die opsie van ’n negatiewe toetsuitslag vir besoekers wat nie ingeënt is nie, het vir groot kommer en verwarring in die bedryf gesorg wat reuse verliese weens inperkings die afgelope twee jaar gely het en hom tans midde ’n oplewing in besoekersgetalle bevind. Saterdag is die wysiging amptelik deur die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, in die Staatskoerant aangekondig. Die toelatingsvereistes het dieselfde dag in werking getree en geld tot middernag op 15 Januarie aanstaande jaar. Dit beteken besoekers het die opsie om of met ’n goedgekeurde inentingsertifikaat wat wys hulle is ten volle teen Covid ingeënt of dan alternatiewelik ’n negatiewe toetsuitslag nie ouer as 72 uur die land binne te kom.

Senior tegniese beamptes van die twee betrokke ministeries was na afloop van Geingob reeds in gesprek om die wysiging op skrif te hê en ook so gou as moontlik in die Staatskoerant te publiseer.

Shangula het in ’n navraag in dié verband van die minister van toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, beklemtoon wanneer inentingsvereistes vir besoekers vasgestel word, is die ministerie “bedag op die toerismesektor wat ons altyd spesiale vrystellng gegee het”.

Wanneer ons die vereistes vir inenting stel, is ons bedag op die toerismesektor wat ons altyd spesiale vrystelling gegee het. Volgens Shangula toon data by grensposte 99% van toeriste kom die land met inentingsertifikate binne en sal dié vereiste nie toerisme negatief beïnvloed nie. Hy het egter erken baie besoekers uit Afrika toon egter eerder negatiewe toetsuitslae en daar sal vir dié groep voorsiening gemaak word. Totdat dit amptelik in die Staatskoerant gepubliseer is, is die versekering gegee dat “PCR-reisigers die land kan besoek en nie beperk mag word deur die Staatskoerant waarin slegs ’n inentingsertifikaat aanvanklik as vereiste gepubliseer is nie”.

Rolspelers in die bedryf het vir kalmte gepleit en om nie verwarring in die belang van die land en die sektor enige inligting te versprei alvorens die wysiging nie amptelik in plek is nie.

Die vrees was veral dat die sektor midde die spitsseisoen wat dit tans beleef, oorval sal word met kansellasies omdat dié wat die land met ’n negatiewe toetsuitslag wou beskou, nie betyds ten volle ingeënt sal wees nie. Volgens ’n rolspeler in die bedryf is daar reeds sowat 120 lande waar volle inenting nie meer ’n vereiste vir toelating is nie. Nog een het gesê ná Geingob se aankondiging het ’n groep van 20 toeriste hul vakansie na Namibië gekanselleer om drie nie ingeënt was nie. Dit het ’n verlies van N$4,5 miljoen vir die bedryf beteken.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.