Die vervoer- en logistiekbedryf wat erge frustrasies beleef weens ure lange oponthoude by veral die Mamuno-grenspos tussen Namibië en Botswana, het Vrydag met die Namibië Inkomste-agentskap (NamRa) by Buitepos oor stappe vergader wat die probleem sal oplos. Die sekretariaat van die Trans-Kalahari-korridor (TKCS) en die Walvisbaai-korridorgroep (WBCG) het die vergadering gereël nadat belanghebbendes in die vervoer- en logistiekbedryf die afgelope maande gereeld ervaar het dat aflaai van vragte vertraag word weens lang oponthoude by grensposte. Mnr. Jaco Zondach, uitvoerende operasionele hoof by Imperial, sê ’n toename in vragverkeer word op die Trans-Kalahari-roete ervaar aangesien die dieselprys in Botswana laer is en vervoerders op brandstofkoste spaar as hulle langs hierdie roete ry. “Verder het die vervoer van steenkool uit Botswana na Walvisbaai ’n jaar gelede nie bestaan nie. Nou is daar 180 steenkoollorries per jaar op hierdie roete. Dieselfde met koper uit Botswana. “Die vloede in Durban gedurende April vanjaar het Walvisbaai baie aantreklik gemaak vir in- en uitvoer. Soda-as uit Turkye wat in die vervaardigingsbedryf gebruik word, word byvoorbeeld nou via Walvisbaai ingevoer,” sê Zondach.

BEAMPTES OORWELDIG

“Die roete is veel besiger, maar daar is steeds net dieselfde getalle NamRa-beamptes op die grens om die vragmotors te skandeer,” sê hy en verduidelik dit word handmatig gedoen en elke vragmotor word deursoek. Die rede hiervoor is om dwelmsmokkelary te voorkom, sê Zondach. “Nou die dag was daar amper 900 vragmotors by Mamuno wat geskandeer moes word.” Buiten dat vragte nie op tyd by depots afgelaai kan word nie, raak dit ook drywers se welstand. “Daar is net twee toilette by hierdie grenspos wat drywers kan gebruik,” sê hy. Mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die FP du Toit-groep, beaam wat Zondach sê en verduidelik ’n vragmotor moet ’n sekere aantal kilometer per maand aflê om die vaste koste te kan verhaal. Hy sê die frustrasie is nie beperk tot die Mamuno-grenspos nie. “By Skilpadshek (tussen Botswana en Suid-Afrika) lei beurtkrag weer tot die opeenhoping van vragmotors. ’n Mens kan nie dink dat ‘n grenspos, wat noodsaaklik is vir die vloei van handel tussen lande, nie oor kragopwekkers beskik nie.”

NAMRA SE AANBEVELINGS

Die TKCS sê op sy Facebookblad NamRa het voorgestel om vir eers nie alle vragmotors te deursoek nie en laerisiko-vragmotors soos leë platbaklorries en brandstoftenkwaens deur te laat sonder om hulle te skandeer. NamRA sal ook in die volgende twee maande sy personeel by die grenspos vermeerder. Die vooraf klaring van vrag word aangemoedig vir vragmotors wat vrag uit Namibië vervoer. Verder is NamRA tans ook besig om sy stelsels op te gradeer. Die volgende aanbevelings deur die bedryf is ook bespreek:
• Verbeterde instandhouding van die grenspos, veral meer parkering en uitbreiding van die beskikbare ruimte.
• Die opleiding van personeel om tyd beter te bestuur en hul kliëntediens te verbeter.
• Vinniger internet sodat dokumente vinniger verwerk kan word.
Ander grensposagentskappe soos immigrasie, hawegesondheid, landbou en die polisie het ook beraadslaag oor die rol wat hulle speel om te verseker vragmotors beweeg vinniger deur die grenspos.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.