Terwyl boere op grond in private besit ook ‘n hoë prys vir die agteruitgang van weiding en grond betaal, bedreig dit die basiese lewensmiddele van kommunale boere – soos voedselbeskikbaarheid, wat beteken hulle moet aanpas deur minder te eet.

Namibiese boere is egter besig om die effek van grondagteruitgang te bestry, eerder as om die oorsake daarvan te takel.

Gevolglik het onvrugbare grond tussen 1965 en 2020 met tussen 80% en 100% – op beide grond in private besit asook kommunale grond – gegroei, terwyl bebosde gebiede (shrubland) met sowat 24% op private grond en 47% op kommunale grond toegeneem het.

Daarteenoor het savanna-gebiede met tussen sowat 33% en 52% gekrimp, terwyl bosveld-gebiede ook met tussen sowat 60% tot 93% gekrimp het.

Dít op gebiede wat in ’n gesamentlike studie deur verskeie Duitse-instellings, wat insluit die Instituut vir Sosioëkologiese Navorsing en die Universiteit van Cologne asook die Universiteit van Tübingen, ontleed is.

DUITSE NAVORSING

Dié inligting is die afgelope Woensdag 28 September bekend gemaak op die 23ste Namibiese Nasionale Weidingsforum (NRF), wat gister (29 September) by die Namibië Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (Nipam) in die hoofstad voortgesit is.

As deel van die studie het navorsers indiepte-onderhoude gevoer met landbouers op sewe private plase, asook op drie kommunale nedersettings in die Waterberg-omgewing. Verder is argiewe en kaarte, asook georuimtelike ontledings en satellietbeelde, tydens die navorsingsproses gebruik.

Die navorsers het verder bevind dat grasgebiede groter is op plase in private besit en dat verbossing deur sekere ontbossingsmetodes beheer word. ‘n Verlies aan groter bome is ook meer dikwels ‘n probleem op private grond.

Daarteenoor is verbossing baie erg in kommunale nedersettings en is ontbosde gebiede en grasvelde klein.

AGTERUITGANG

Beide kommunale boere asook diegene op private grond ervaar die agteruitgang van weiding, dog in verskillende mates, het die studie bevind.

Die navorsers sê boere het almal soortgelyke definisies vir die agteruitgang van hul grond verskaf, maar die ekonomiese uitwerking daarvan op private- en kommunale grond het verskil.

Op private grond lei dit tot minder voerproduksie, wat beteken boere se koste verhoog as hulle voer vir hul diere moet koop. Dit lei dus tot geldelike verliese.

Daarteenoor lei ‘n verlies aan weiding in kommunale gebeide tot veeverliese en erger armoede, asook ‘n gebrek aan voedselsekuriteit. Dit kan aanleiding gee tot maatskaplike konflik en migrasie van boere.

Volgens die navorsers vererger verwoestyning as gevolg van onvoldoende reën, swak weidingbestuur en oorbeweiding, terwyl verbossing op private plase vererger oor ‘n gebrek aan brande en ‘n tekort aan kleinvee. Op kommunale grond was ‘n gebrek aan bosbeheer deur die regering een van die grootste dryfvere vir verbossing – iets wat onlangs verander het.

OORLEWING

Die navorsers het aangedui dat boere op plase in private besit, aanpas met die agteruitgang van grond en weiding deur van verskillende weidingstrategieë gebruik te maak. Dit sluit in om kampe te span en weiding te beheer, asook om kort, intensiewe weidingsperiodes toe te laat.

Hulle pas weer by droogte aan deur langer weidingsperiodes toe te laat, heinings te verwyder en byvoeding vir hul vee te gee. Vee- en wildgetalle word ook verminder.

Daarteenoor pas kommunale boere by grondagteruitgang aan deur klein weidingskampe te span (nie groter as een vierkante kilometer nie), geen meer huise en kampe toe te laat buiten dít wat reeds bestaan nie en deur hul hulpbronne te beskerm deur nie nuwelinge in die gebied toe te laat nie. Persone van buite moet hoë fooie vir die benutting van waterbronne betaal en hulle span ook drade.

Tydens droogtes pas hulle aan deur krale net seisoenaal te benut en dit by tye oop of toe te maak, asook deur kraalkomitees te stig vir beter beheer.

ONTBOSSING

Die navorsers sê op grond in private besit word ontbossing deur beide die benutting van chemikalieë of handearbeid gedoen. Alhoewel ontbossing tot gevolg het dat meer gras beskikbaar is, is dit iets wat voortdurend toegepas moet word.

Daarteenoor kon kommunale boere tot onlangs nie ontbossing toepas nie, omdat die owerhede hulle verhoed het. Dit het egter intussen verander toe die nuwe nasionale strategie vir die volhoubare bestuur van boshulpbronne (2022 – ‘27) uitgereik is.

Volgens die navorsers pas boere ook aan deur na alternatiewe inkomstebronne te soek. In die geval van private plase sal baie boere die houtskool- of selfs die jagbedryf betree, terwyl kommunale boere dikwels elders werk gaan soek of van staatstoelaes afhanklik is.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.