Terwyl daar min, indien enige reën vir Namibië tot minstens in Oktober verwag word, meen weerkenners die land kan vanaf die laaste deel van November tot in Februarie weer gemiddelde tot bogemiddelde reën verwag.

Terselfdertyd sal temperature warm tot bloedig warm wees tot minstens die middel van November, wanneer die eerste reën kan voorkom.

Mnr. Johan van den Berg, ’n konsultant vir die landboubedryf oor weersake, sê in sy jongste weervooruitskouing van 26 September dat La Niña-toestande reeds goed gevestig het, terwyl dit swak tot matige vlakke handhaaf.

“Die Indiese Oseaan is in ’n baie sterk negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool (IOD).

“Die negatiewe fase van die IOD-indeks is die sterkste sedert minstens 2018 en dit is besonders positief vir reënneerslae.

“Die gekombineerde uitwerking van die La Niña asook die verwikkelinge in die Indiese Oseaan is beide baie positief vir somerreën,” sê hy.

Van den Berg waarsku in dieselfde asem dat die veldbrandseisoen nou in volle swang is, terwyl kwaai winderige en baie warm weer heers.

“Terwyl die reën nog afwesig sal wees, tot minstens die einde van Oktober, kan die res van September en Oktober ’n hoë risiko vir brande inhou,” het hy bygevoeg.

Hy sê die kanse op nog uiterse koue weer is besig om daadwerklik te verminder. Dit volg ná ’n laaste snerpende koue op 21 September die kwik tot so laag as 3°C laat terugsak het – veral in die laer Oranjarivier-gebied.

LA NIÑA

Die sogenaamde Niño-gebiede is almal bykans 0,8°C tot 0,9°C koeler as normaal, wat op ’n swak tot matige La Niña dui.

“Alhoewel die vlak laag is, is dit sterker as dieselfde tyd verlede jaar en is die La Niña ook goed gevestig omdat dit die derde agtereenvolgende jaar is wat dit voorkom.

“Na verwagting sal die La Niña swak bly tot omtrent Desember of Januarie, waarna dit sal begin verswak en neutrale vlakke teen sowat Januarie of Februarie bereik,” het Van den Berg gesê.

La Niña word in Suider-Afrika met “natter toestande as gewoonlik” vereenselwig.

Hy het bygevoeg dat die IOD tans in ’n sterk negatiewe fase is, met indekswaardes van sowat 1°C koeler as normaal in September en Oktober, voordat dit sal verswak en ’n meer neutrale fase teen Desember kan bereik.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.