Sou die Europese Unie (EU) en ander lande besluit om die in- en uitvoer van jagtrofeë te verbied, sal dit rampspoedige gevolge vir Namibië se ekonomie en bewaringsprogramme inhou.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê Europese jagters dra by tot meer as die helfte van die totale inkomste uit jagbedrywighede in Namibië.

In 2019 het altesaam 5 001 trofeejagters Namibië besoek. Duitse toeriste of jagters was die meeste met ’n totaal van 1 792 (36%), gevolg deur die Verenigde State van Amerika (VSA) met 934 (19%) en Oostenryk 378 (7%).

Die aantal trofeejagters wat Namibië in 2020 besoek het, het tot 871 gedaal weens Covid-19.

Dié getal het verlede jaar weer toegeneem tot 2 587. Duitse jagters was weer eens die meeste met 824 (32%), gevolg deur die VSA met 775 (30%) en Hongarye derde met 146 (6%).

Shifeta het gesê sommige inisiatiewe is aan die gang om die invoer van trofeë na die Verenigde Koninkryk (VK), België en Finland te verbied.

“Voor hierdie verwikkelinge het Frankryk en Nederland ook beperkings en verbiedinge op die invoer van sekere jagtrofeë ingestel.”

Volgens die minister kom meer as 90% van die land se wild op private en kommunale grond voor en die land het nou meer wild as op enige tydstip in die afgelope 100 jaar.

Shifeta het gesê teen 2018 was ’n geraamde 230 000 inwoners van kommunale gebiede – wat 9% van Namibië se totale bevolking is – lede van kommunale bewaringsgebiede, wat byna 5 000 werksgeleenthede geskep het.

Hy het gesê dié gemeenskappe het gedurende 2020 alleen ongeveer N$150 miljoen in kontant en ander voordele gegenereer.

“Ongeveer 30% van hierdie opbrengste word deur bewaringsjag gegenereer, wat die sogenaamde trofeejag insluit, terwyl die res van fotografiese toerisme en ander natuurgebaseerde bedrywighede was.”

Volgens Shifeta huisves private plase gesamentlik sowat 82% van Namibië se wildbevolking, genereer N$300 miljoen in jaarlikse jaginkomste en het meer as 6 000 mense van landelike gebiede in diens.

“Hulle dra ook by tot voedselsekerheid, aangesien meer as 95% van die wildsvleis wat op hierdie lande geproduseer word, binne Namibië bly. Die ekonomiese bydrae van die wildsektor het veeproduksie verbygesteek en is ’n belangrike deel van ons toekomstige aanpassing by klimaatsverandering in ons semi-droë land.”

Hy het verder daarop gewys dat die Wildproduktetrustfonds (GPTF) inkomste uit jag en verkope van lewende wild genereer.

Data van 2020 tot 2021 toon die GPTF het sowat N$30 miljoen aan bewaringsprogramme bestee, waarvan 73% aan teenstropery en ander wildbestuurinisiatiewe gewy is.

Shifeta het gesê die jagmetode wat die meeste ekonomiese waarde inhou en die volhoubaarste is, is selektiewe jag van hoë waarde – waardeur ’n internasionale kliënt ’n premie betaal om ouer individuele diere te jag.

“Hierdie metode van jag verwyder elke jaar net minder as 1% van die nasionale wildbevolking, teen die jaarlikse wildbevolkingsgroei van sowat 25 tot 35%.”

In die geval van spesies soos olifant wat stadiger aanteel, wat teen 3% tot 5% per jaar groei, is die afname baie laer, teen ongeveer 0,2%.

Hy het gesê sonder ’n geskikte alternatief om die inkomste, werk en proteïen wat bewaringsjag in Namibië verskaf, ten volle te vervang, sal mense en wild benadeel word.

“Ons word gestraf omdat ons goed vaar. Hierdie lande is jaloers. Ons het reeds gedreig om die Konvensie oor die Handel in Bedreigde Spesies (Cites) te verlaat as hulle nie na ons luister nie en dan sal ons kyk watter diere hulle wil bespreek aangesien die grootste wildbevolking in Suider-Afrika is. Dus, as sommige van ons onttrek, sal dit ’n groot impak op hulle hê.”

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.