’n Bekende boer, stoetteler en ikoniese figuur in die Omaheke-gemeenskap, die 74-jarige mnr. Louis Rudolph van der Merwe (74 jaar), is Saterdag in die Lady Pohamba privaat hospitaal in Windhoek dood.

Hy is ’n week tevore in dié hospitaal opgeneem waar hy vir erge pulmonêre fibrose behandeling ontvang het. Dit is ’n longsiekte waar skade aan die longe veroorsaak is deur langdurige blootstelling aan stof en ander deeltjies. Dit staan ook as “ploegmansiekte” bekend aangesien hierdie toestand meestal gevind word onder mense wat in boerdery, mynbou en konstruksie werk.

Sy familie het gister in ’n verklaring gesê ’n gedenkdiens vind môre om 11:00 in die Suid-gemeente van die NG kerk op Gobabis plaas.

Hy is gister beskryf as ‘n baken vir sy familie en vriende, ‘n steunpilaar in die Gobabis-gemeenskap, ‘n gewaardeerde sakeman en vooraanstaande beesboer en eienaar van die St Blaize Brahman- en Sussex-stoeterye.

Die familie bedank in die verklaring die personeel van Lady Pohamba vir hul professionele dienste en deernisvolle ondersteuning tydens hierdie moeilike tyd.

“Hy sal vir altyd liefdevol onthou en bewonder word vir sy eerbare lewe en buitengewone prestasies. Hy het onvermoeid gewerk om sy plaas te bekom en op te bou, en die vertroue en respek van sy geliefdes en die gemeenskap te verdien,” sê hulle.

Van der Merwe was ’n lid van die Gobabis-dorpsraad asook die Gobabis-skouvereniging en het in die loop van sy loopbaan talle toekennings ontvang.

Hy was ook die oprigter van die bekende Brahmanbul-standbeeld van Gobabis, ikoon van Omaheke as die wêreld van beeste. Toe die standbeeld verlede jaar deur stormwind beskadig is, het hy toegesien dat dit herstel word.

Sy familie sê sy lewensverhaal dien as voorbeeld vir alle Namibiërs en “toon dat samewerking en harde werk sosioëkonomiese, kulturele en rasse-hindernisse kan oorkom om gemeenskappe te versterk en die lewens rondom ons te verryk”.

“Hy sal deur baie mense van alle vlakke van die lewe en oor alle gemeenskappe gemis word.

“Sy nalatenskap bly ‘n inspirasie en ‘n voorbeeld wat deur sy vrou, Marlene, drie seuns, Kobus, Abé en Louis (jr.), asook sy sewe kleinkinders sal voortleef.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.