Die voorval waartydens ’n Windhoeker wat saam met sy gesin en ouers in die veld gebraai het, ’n vermeende aanvaller doodgeskiet het toe hul lewe na bewering bedreig is, het opnuut die kwessie van die reg op selfverdediging onder die vergrootglas geplaas.

“Elke geval van selfverdediging moet op eie meriete beoordeel word.”

So sê mnr. Milton Engelbrecht, ’n Windhoekse prokureur.

Engelbrecht sê die polisiebeamptes op die toneel sal besluit of ’n individu wat uit vermeende selfverdediging opgetree en ’n aanvaller doodgemaak het, in hegtenis geneem moet word of nie.

“In ons strafprosesreg word die omstandighede wat die polisiebeamptes op die toneel in ag moet neem, duidelik uitgestippel. Die beamptes sal na die omstandighede op die toneel kyk en daarvolgens ’n besluit neem,” sê hy.

Engelbrecht sê verskeie kwessies, wat die persoon wat na bewering selfverdediging gebruik se verantwoordelikheid tot die beskerming van lewe insluit, moet ook in ag geneem word.

“Die feit dat jy in jou huis is, beteken jy kan jouself verdedig, maar as dit buite die huis is, al hardloop die persoon nog in jou tuin na die hek toe, moet daar minstens ’n waarskuwingskoot afgevuur word.

“Die polisiebeamptes op die toneel sal bepaal of die vermeende aanvaller van voor of van agter geskiet is en ander omstandighede in ag neem en daarvolgens ’n besluit neem. Jy kan nie iemand wat van jou af weghardloop uit selfverdediging skiet nie. Die aanranding van ’n aanvaller mag ook net aanhou tot jou lewe nie meer in gevaar is nie,” sê Engelbrecht.

Me. Toni Hancox, direkteur van die Regshulpsentrum (LAC), sê: “Selfverdediging moet proporsioneel wees. Die omstandighede moet ontleed word. Jy kan nie ’n besluit neem as jy nie die omstandighede ken nie.”

“Dit gaan oor die bedreiging; as ’n vreemdeling onregmatig in jou huis inkom, sal jy bedreig voel,” sê sy.

“Dit is moeilik om te weet wanneer iemand ’n bedreiging is. As iemand byvoorbeeld ’n mes op jou rig, maar jou nog nie daarmee probeer steek het nie, kan dit moeilik raak,” sê Hancox.

Engelbrecht sê as ’n vreemdeling in ’n private woning betrap word, het ’n mens die reg op selfverdediging, maar om iemand se lewe te neem, moet die laaste opsie wees.

“Om iemand se lewe te neem moet die laaste uitweg wees. Ek sou sê om die persoon te wond of af te skrik moet eers oorweeg word,” sê hy.

“Dit is ’n formaliteit dat die persoon aangekla moet word, of hy/sy in hegtenis geneem word of nie. ’n Amptelike klag moet aanhangig gemaak word om te verseker dat die voorval ondersoek word,” sê mnr. Charles Eiseb, ouddepartementshoof van die fakulteit vir sosiale wetenskap aan die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Hy sê dat individue nie net hul eie lewe mag verdedig nie, maar ook onder regulasies vir selfverdediging kan pleit as hulle in die belang van ’n ander persoon se veiligheid opgetree het of hul persoonlike besittings verdedig het.

“Jy mag ook selfverdediging gebruik as jy jou integriteit of ’n volgende persoon wil verdedig of jou besittings beskerm,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.