Namibiërs staar ’n groeiende tekort aan vars, ongeprosesseerde vleis op winkelrakke in die gesig, veral as dit by varkvleis kom.

Die grootste rede hiervoor is die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, wat veroorsaak dat geen vleis van dié land ingevoer kan word nie.

Desmond Cloete, hoofbemarkingsbeampte by die Vleisraad van Namibië, het gister aan Republikein gesê hulle verwag nie dat die situasie gou sal verander in terme van die teenwoordigheid van bek-en-klouseer in Suid-Afrika nie.

“Die plaaslike varkproduksie voorsien in net sowat 50% van die vraag in die formele mark. Dit beteken daar is ’n tekort van 50%.

“Dit is nog altyd aangevul met produkte uit Suid-Afrika. Weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika is daar ’n moratorium op die invoere van vars, ongeprosesseerde varkvleis uit Suid-Afrika geplaas.

“Invoerders het daarna begin kyk om varkvleis van lande soos Spanje en Duitsland te kry. Die produkte kom egter met sekere invoertariewe, wat die produk op die rak so duur sal maak dat dit nie vir invoerders lewensvatbaar sal wees nie,” het hy verduidelik.

Cloete sê gewoonlik lei ’n tekort aan aanbod en ’n groter vraag na verhoogde pryse.

Hy sê hulle het egter eers onlangs daarmee begin om ’n verbruikersprysindeks by te hou en dit is nog moeilik om te bepaal of daar ’n opwaartse druk op verbruikerspryse in terme van vleis is.

“Ons het nog nie soveel historiese data beskikbaar nie. Varkvleis en hoender is egter die goedkoper proteïen as jy dit vergelyk word met skaap- en beesvleis.”

BEESVLEIS

Hy sê Suid-Afrika se bek-en-klouseer situasie plaas ook vir Namibië in ’n moeilike situasie.

“Ons kan nie teelmateriaal vanaf die buurland inbring nie. Ons kan ook nie vars, ongeprosesseerde bees- en varkvleis inbring nie. Ons invoere van beesvleis word ook geraak, veral as dit kom by bevoorbeeld die restaurantbedryf en die biefstukke wat dikwels daar geëet word.

“Die wat ons self produseer, voer ons na Noorweë en Europa uit. Terselfdertyd is daar plaaslik ’n tekort aan slagbeeste omdat boere steeds, ná die droogte, kuddes herbou en beeste terughou,” het Cloete verduidelik.

HOOP

Cloete sê eerder as wat daar gehoop word dat die buurland se probleem met bek-en-klouseer opgelos sal word, word daar plaaslik ander planne beraam.

“Suid-Afrika het goed gevestigde kompartemente of biosekuriteitsones as dit by hul varkproduserende gebiede kom.

“Ons het ’n versoek aan Namibië se veeartsenydienste gerig om met hul eweknieë in Suid-Afrika te onderhandel om die kompartemente te oudit. Indien hulle tevrede is met hoe die regulasies vir biosekuriteit gedoen word, kan daar moontlik kompartemente goedgekeur word wat weer varkvleis aan Namibië mag voorsien.”

Cloete sê varkvleisprodukte word tans ook vanaf Europa ingevoer, veral vir plaaslike maatskappye wat die geprosesseerde vorm daarvan in hul produkte gebruik, maar dat sekere invoertariewe hierop geld.

“Daar word tans met owerhede onderhandel om kwytskelding van die invoertariewe te kry, maar dit is ‘n proses wat nog voortduur.”

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.