Werkgewers met tien of meer werknemers wat nuwe aanstellings sonder die arbeidsministerie se insette maak, kan ’n boete van N$20 000 opgelê word, of twee jaar tronkstraf, of albei.

Die regering het verlede week gewaarsku dat alle besighede met tien of meer werknemers, onmiddellik moet registreer en van die ministerie se inligtingstelsel vir werksgeleentheid gebruik moet maak.

“Dit is onwettig vir ’n aangewysde werkgewer om vakante poste te vul sonder om ’n gekwalifiseerde werknemer, wat deur die ministerie vir die pos verwys is, te oorweeg.”

Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het Woensdag klein besighede met tien of meer werknemers herinner dat hulle nou ook aan die regulasies van die wet op diensbillikheid moet voldoen.

Die arbeidsminister het verlede jaar in September sonder groot ophef die verlaging van die drempel vir maatskappy waarop dié regulasies van toepassing is vanaf besighede met ten minste 25 werknemers na besighede met tien werknemers aangekondig.

Verder moet dié werkgewers ook aan die Wet op Werksgeleentheidsdienste no 8 van 2011 voldoen. Daarvolgens moet hulle by die ministerie registreer en enige vakante poste by die ministerie aanmeld.

Die wet stel die ministerie in staat om deur die Namibiese Inligtingstelsel vir Geïntegreerde Werksgeleenthede (NIEIS) werkgewers in kontak met werksoekers te plaas, volgens die verklaring.

Verder dring die ministerie daarop aan dat die werkgewers elke jaar ’n beskrywing van hul besighede moet indien.

NIEIS word gebruik om inligting oor toepaslike besighede in te samel, te stoor en op te dateer, in aggenome van werksoekers se besonderhede, vakante poste in die arbeidsmark, gespesialiseerde vaardighede en kwalifikasies wat Namibiese burgers besit en inligting oor werkgewers landswyd.

“Die verandering in die drempel het ten doel om inklusiwiteit aan te moedig en om dekking in die informele sektor te vergroot, aangesien dit ’n groot deel van Namibiese werknemers insluit,” lui die verklaring.

“Dit sal waarskynlik werksgeleenthede vir werksoekers vergroot aangesien talle werkgewers nou aan die nuwe vereistes moet voldoen,” volgens die verklaring wat deur die ministerie se waarnemende uitvoerende direkteur, Otniel Podewiltz, onderteken is.

Die ministerie het reeds 494 nuwe aangewysde werkgewers verlede jaar op die stelsel geplaas, en deur NIEIS is 2 200 werksoekers in al die sektore van die ekonomie aangestel, volgens die ministerie.

Volgens die ministerie se woordvoerder, Jeremia Namalenga, is 1 939 werkgewers reeds op die NIEIS-stelsel geplaas. Hy sê registrasie kan aanlyn gedoen word, of deur ’n vorm in te vul, en behoort nie lank te neem nie.

Verder is hy oortuig die ministerie sal spoedig genoeg reageer en werksoekers binne die beskikbare tydperk voorstel om die vakante poste te vul, soos aangedui wanneer poste by die ministerie aangemeld word.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.