“Die applikant [Mostert] poog om siviele verrigtinge te misbruik om strafregtelike vervolging vry te spring.”

Só sê die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) en die kantoor van die aanklaer-generaal in hul hoofbetoë wat vandeesweek by die hoërhof in Windhoek ingedien is.

Dit vorm deel van die siviele saak waarin oudlanddros Walter (Rooies) Mostert versoek om nie vervolg te word nie en uit aanhouding vrygelaat te word.

Mostert het Woensdag voor regter Orben Sibeya verskyn en hou vol dat sy fundamentele reg op vryheid en ander regte ernstig geskend en bedreig is.

“Indien hy nie in aanhouding wil wees nie, moet hy aansoek doen om borgtog, soos voorsien in die strafregwet, maar hy weet van die uitdagings wat hy in die gesig staar om borgtog te bekom en vandaar sy poging om die siviele proses te misbruik,” lui die respondente se hoofbetoë wat Dinsdag by die hof ingedien is.

BEWEERDE ONREËLMATIGHEDE

Mostert beweer die destydse senior ondersoekbeampte van die ACC, Justine Kanyangela, was tydens ’n ontmoeting in September 2015 nie eerlik met hom nie.

Volgens hom het hy haar meer as een keer gevra of hy ’n verdagte is en sy het hom glo verseker hy is net ’n getuie. Sy ontken dié bewering.

Hy beweer sy wou hom uitvang om ’n verklaring af te lê waarin hy homself inkrimineer en dat sy hom nie voor die onderhoud oor sy regte ingelig het nie. Kanyangela sê in haar verklaring dat sy hom wel oor sy regte ingelig het.

In Oktober 2015 toe Mostert sy verklaring na die ACC se kantoor geneem het, was sy glo volgens hom nie op kantoor nie. Sy het hom na bewering versoek om die verklaring by die ontvangsafdeling te los.

Volgens Mostert het hy aan Kanyangela gesê dat sy die verklaring in haar hoedanigheid as kommissaris van ede – in sy teenwoordigheid –moet teken. Sy wou glo nie na hom luister nie en het daarop aangedring dat hy die verklaring by die ontvangsafdeling los.

Kanyangela sê Mostert het daardie dag na haar kantoor gekom en sy het die verklaring in Mostert, sowel as ’n ACC-ondersoekbeampte Willem Olivier, se teenwoordigheid onderteken.

“Dis ’n blatante leuen en sy weet dit,” stel Mostert in sy verklaring.

Mostert beweer ook dat sy reg tot privaatheid geskend is omdat sy huis sonder ’n lasbrief deursoek en sy bankstate ook sonder ’n lasbrief verkry is.

In ’n verklaring van die adjunk-aanklaer-generaal, Filistas Kapanso Shikerete, voer hy aan dat vervolging net gestop kan word wanneer ’n beskuldigde kan bewys dat sy verhoor nie binne ’n redelike tydperk plaasvind nie en daar onherstelbare vooroordeel of ander buitengewone omstandighede plaasgevind het.

“My aansoek behels buitengewone omstandighede as gevolg van talle ernstige onreëlmatighede,” beweer Mostert in sy beantwoordende beëdigde verklaring.

Volgens Shikerete kan die onreëlmatighede wat Mostert beweer, tydens sy verhoor aangepak word en dat ’n aansoek om vervolging te staak, nie die beste oplossing is nie.

TYDLYN EN GEBEURE

In Augustus 2015 het dit aan die lig gekom dat Mostert na bewering identiteitsdokumente onwettig aan ’n Suid-Afrikaanse gesin verskaf het.

Hulle het hom glo N$250 000 betaal.

Kanyangela het Mostert in September 2015 versoek om na hul kantoor te kom en hy het ingestem om ’n verklaring af te lê.

Hy het op 2 Oktober 2015 na die ACC se kantoor teruggekeer om die verklaring in te dien. Hy beweer Kanyangela was nie op kantoor nie en sy het hom versoek om die verklaring daar te los.

Mostert het op 27 April 2017 na Suid-Afrika vertrek en is in Augustus 2018 in kennis gestel dat hy ’n verdagte is.

Die destydse hoof van die ACC, Nelius Becker, het op 17 September 2018 ’n mediaverklaring uitgereik waarin die publiek se hulp gevra word om Mostert op te spoor. Mostert is op 1 Mei 2021 op Tses in hegtenis geneem.

In September van dieselfde jaar het sy aansoek om borgtog in die Windhoekse landdroshof begin, maar is nooit afgehandel nie aangesien Mostert op 5 November 2021 vanuit die Aus Hill-hospitaal in Windhoek – waar hy weens mediese redes aangehou is – ontsnap het.

Hy is op 24 Maart 2022 by die Noordoewer-grenspos in hegtenis geneem.

Mostert is op 29 Maart weer vrygelaat aangesien ’n landdros nie die lasbrief vir sy inhegtenisname onderteken het nie, maar hy is dieselfde dag weer in hegtenis geneem ingevolge ’n lasbrief wat verband hou met ’n klag van onwettige ontsnapping uit aanhouding.

Mostert het dieselfde dag weer voor landdros Ivan Gawanab verskyn wat hom ure vantevore vrygelaat het en is sedertdien in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.

Hy het in Mei verlede jaar die siviele saak teen die aanklaer-generaal, direkteur-generaal van die ACC, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die kantoor in beheer van die Windhoek korrektiewe dienste aanhangig gemaak.

ONWETTIGE AANHOUDING

Mostert voer verder aan dat hy onwettiglik aangehou word en eis sy vrylating.

Volgens Shikerete het Mostert nie ’n saak gestel vir die bewering dat sy aanhouding onwettig is nie.

“In die geval dat die hof bevind dat die applikant op 1 Mei 2021 onregmatig gearresteer is, het die aanhouding wat die landdros op 3 Mei 2021 beveel het, die daaropvolgende aanhouding van die applikant regverdig,” beweer hy in sy verklaring.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.