Beesprodusente sal binnekort ʼn tweede kans kry om aandele in die beplande Savanna Beef Processors (SBP) te koop.

Die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) het Vrydag aangekondig dat dit weer ʼn venster van 19 Augustus tot 9 September sal oopmaak om aan produsente ʼn tweede geleentheid te bied om aandele in die beplande uitvoerbeesabattoir te koop.

Dit volg nadat die inisiatief reeds as ʼn “reusesukses” beskryf is toe 549 produsente tydens die eerste beleggingsronde in Junie ʼn indrukwekkende N$146 miljoen in SBP ingestoot het en dus self sowat 73% van die beskikbare N$200 miljoen se aandele opgekoop het.

Die forum se komitee sê die besluit om ʼn tweede kans vir produsente te skep om te belê, is die afgelope Donderdag tydens ’n vergadering geneem.

“Die redes hiervoor is tweeledig – dit word eerstens gebaseer op die groot aantal produsente wat eers moes wag vir geld om beskikbaar te raak.

“Tweedens gaan dit daaroor dat produsente oor minstens 75% se aandele moet beskik om beheer oor Savanna te behou – en dat al dié aandele slegs deur produsente besit word en nie enige ander partye nie.”

Die BVCF sê net 54 miljoen se aandele is beskikbaar en dat “eerste aansoekers eerste gehelp sal word”.

“As al die aandele verkoop is en ons het steeds te veel inskrywings, sal die aandele op ʼn pro rata-basis uitgereik word,” het die forum gesê.

“Nou is die tyd om te organiseer en te beplan sodat belangstellendes vanaf 19 Augustus aandele kan koop,” het die forum gesê.

NOG PROJEKTE

Die BVCF sê hulle beplan ook reeds aan die volgende projek.

“Sodra die voorvereistes van die onlangs ondertekende ooreenkoms met Brukarros Meat Processors nagekom word, kan die aanleg moontlik weer in gebruik geneem word. Ons sal almal op hoogte van verwikkelinge hou,” het die forum gesê.

“Ons wil ons siening met almal deel dat die BVCF, in sy strewe om ‘n gunstiger situasie vir boere te skep, reeds samewerking met alle belangstellende en relevante rolspelers in die vleisbedryf verken.

“Ons het die aanleg op Witvlei verken en met Meatco gekommunikeer. Witvlei voldoen egter nie aan ons vereistes nie, terwyl Meatco nie in samewerking belanggestel het nie en ons pogings van die hand gewys het.

“Alle relevante ministeries is in kennis gestel en word op hoogte van alle ontwikkelinge gehou.”

Die BVCF se siening is dat Savanna Beef Processors nie mededinging vir enige een in die mark is nie, maar eerder ʼn vennoot wat die landbousektor aanvul – in pas met Visie 2030 en die Harambee-welvaartsplan.

Dit ondersteun die regering se strategieë vir tuisgroei en waardetoevoeging.

Die forum het gesê die “eerste hoofstuk” is reeds geskryf.

“Savanna Beef Processors Limited is geregistreer. Daarna is geregistreerde Namibiese beesprodusente genooi om hierin te belê en aandele te koop. Promosietoere is gehou en dit het daartoe gelei dat amper alle nodige kapitaal ingesamel is.

“Ons wil weer van die geleentheid gebruik maak om almal vir die oorweldigende ondersteuning en dryf van hierdie inisiatief te bedank,” het die forum gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.