Die rede waarom die Nieu-Seelandse maatskappy Global Protein Logistics (GPL) se eerste besending van tien vraghouers met Namibiese beesvleis nie na China uitgevoer kon word nie, is weens ’n tegniese en prosesseringsfout ingevolge China se vereistes.

Gevolglik moes die vraghouers, wat reeds ’n ruk lank op die Walvisbaaise hawe gewag het en sowat N$30 miljoen se vleis bevat, na Meatco teruggestuur word, het Dirk Potgieter, ’n plaaslike produsent uit Otjiwarongo wat betrokke was by die werwing van slagdiere vir GPL, gister aan Republikein verduidelik.

“Die dokumentasie en etikettering was nie reg nie; daar is ’n fout met die kodes. China kan nie die geld oorbetaal as die dokumentasie nie reg is nie. Die vrag kan ook nie China gestuur word nie, want as dit aan die anderkant aankom en dié fout word ontdek, word die totale produk van N$30 miljoen afgeskryf,” het hy gesê.

Johan Pienaar, GPL se projekleier vir Afrika, het dit gister uit Suid-Afrika bevestig. Hy sê die kliënt het eintlik 40 vraghouers gesoek en hulle is dankbaar dat die probleme nou reeds tydens die eerste proeflopie ontdek is.

Beide Pienaar en Potgieter het beklemtoon die hele projek het nié deur die mat geval nie, maar dit beteken alle partye moet opnuut om die tafel gaan sit om dié struikelblokke uit die weg te ruim sodat die uitvoerproses voortaan vlot kan verloop.

Dit blyk dat Meatco produsente sal vergoed vir die vleis, terwyl GPL die premie van N$3 op Meatco se prys sal betaal, soos van die begin af belowe is.

Potgieter sê egter hy gaan voortaan daarop aandring dat “geld in waarborg” by Meatco moet lê vir boere wanneer hulle slagdiere aan GPL lewer.

“Ek wil tekenreg daarop hê sodat die boer op tyd betaal word. Dit is al hoe ek verder hierby betrokke sal wees en ek glo dit is wat nodig gaan wees om produsente se vertroue te herstel, wat nou skipbreuk gely het,” het hy gesê.

BETALING

Potgieter sê Roydon Hartnett, GPL se besturende direkteur, hardloop ook nie weg nie.

Hy het glo in ’n brief aangedui hy kan die N$3-premie op Meatco se prys aan produsente lewer. Hy vra ook dat onderhandelinge oor die uitvoere moet voortgaan.

“Die ding kon baie slegter afgespeel het as die produk gelaai is, die etikettering verkeerd was en die totale produk van N$30 miljoen verbrand moes word. Dan het beide GPL en die koper in China hul geld verloor en dan was dit ’n baie groter drama.

“Nou is dit sleg vir boere, hulle sal nog ’n week of twee vir hul geld moet wag,” het hy bygevoeg.

Pienaar het hiermee saamgestem en meen dit is ’n bedekte seën dat hierdie kwessies vroeg geïdentifiseer is – voor die produk in China kon aankom en dalk verwerp kon word, verskeie partye hul geld kon verloor en dit Namibië se uitvoerreputasie kon belemmer.

Potgieter sê die grootste rede waarom die uitvoer nie kon plaasvind nie – hetsy dit GPL of Meatco se fout was – is dat hierdie tipe produk nog nooit na China uitgevoer is nie en die kodes daarvan heeltemal verskil. Potgieter meen alle partye het ’n aandeel in die probleem.

Pienaar sê Meatco het eienaarskap van die probleem geneem deur die vleis terug te koop en dan weer te verkoop waar hulle markte daarvoor het.

“Ons is beïndruk met hoe Meatco die hele situasie hanteer het,” het Pienaar bygevoeg.

“Ons het geen twyfel in hul vermoë om hierdie probleem reg te stel nie. Dit is egter ’n internasionale vereiste by doeane, daar is geen ruimte vir foute in dokumentasie nie,” het hy bygevoeg.

Pienaar het verduidelik dat, sou alles volgens plan verloop, sou boere binne die ooreengekome 7 tot 14 dae betaling ontvang het. Nou sal boere steeds betaal word, alhoewel dit nou langer sal neem.

“Ons is daar vir die boere, al is daar dalk nou wantroue. Ons is nog steeds 100% toegewyd en hierdie is dinge wat soms in besigheid gebeur – alles verloop nie altyd glad nie. Dit is goed dat ons nou die groeipyne hanteer,” het hy gesê.

“Ons het niks om weg te steek nie en hardloop van niks af weg nie. Teen die einde van die jaar belê ons al vier jaar lank in hierdie projek. Ons volgende bestelling is vir 40 vraghouers per maand. Ons wil belê in die boere en dis ’n baie groot projek waaraan ons al jare bou,” het Pienaar beklemtoon.

OPREGTE BEDOELING

“As dinge goed verloop, kan GPL steeds sy bestelling uit China nakom. Dit is van nasionale belang dat ons hierdie mark vir beesvleis wat nie ontbeen is nie na China oopkry,” het Potgieter gesê.

Potgieter sê sy bedoelings was opreg. “Ek het my hele hart daarop gestel dat hierdie tot voordeel van al drie partye moet wees: Dat die boer goeie pryse vir sy produk betaal moet word, Meatco sy nodige deurset kry en ons nog ’n mark kan bykry. Dit kan vir alle partye ’n wen-wen-situasie wees.”

Hy verduidelik hy is nooit amptelik as GPL se agent aangestel nie, maar het later half die nieamptelike spreekbuis vir GPL geraak en was baie suksesvol in sy werwing.

“GPL het toe gesê as ek die verkryging doen, betaal hulle my N$0,50 per kg van wat ek werf. Ek het ook nog nie hierdie betaling gekry nie.”

Potgieter sê hy het intussen reeds talle oproepe ontvang oor die situasie, terwyl hy self aan die boere se kant staan.

“Die groepering van beleggers van Sukses Farming, waarvan ek deel is, het sowat 209 beeste ter waarde van N$3,5 miljoen vir GPL geslag,” het hy gesê.

“Ek dink heeltyd in al drie partye se belang en dra dit op my hart dat hierdie tot voordeel van almal moet strek.”

Potgieter voeg by positiewe uitvloeisels hiervan sluit in dat ander entiteite soos Beefcor en Savanna Beef Processors ook nou met Meatco onderhandel om verslagting vir hul buitemarkte te doen.

Meatco, die Namibië Landbou-unie (NLU) en ander rolspelers sal na verwagting nog reageer op navrae wat oor GPL aan hulle gerig is. Dié is ’n ontwikkelende storie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.