Die slegte nuus is dat Namibiese boere wat beeste aan GPL vir beenin-uitvoer na China gelewer het nou nog meer in die duister gelaat is nadat hulle al reeds sewe weke vir hul betalings wag. Meatco het Vrydagmiddag aangekondig GPL se tien vraghouers wat reeds ‘n geruime tyd op die Walvisbaai-hawe vertoef, sal so gou as moontlik teruggebring word na sy Windhoek-aanleg, waar nog twee vraghouers gereed gestaan het vir verskeping. Die waarde van die vleis in die twaalf vraghouers word op sowat N$30 miljoen geskat. Net ‘n enkele boer het N$3,5 miljoen se vleis gelewer.

In ‘n amptelike brief, onderteken deur Roydon Hartnett, dié Nieu-Seelandse groep se besturende direkteur, het hy die verwagting geskep betalings aan produsente sal 10 tot 14 dae ná verslagting geskied. Hy sou Namibië al by drie geleenthede besoek om produsente en Meatco-bestuurslede te ontmoet – eers begin Maart (volgens ‘n brief, gedateer 8 Februarie 2023, wat hy onderteken het), toe einde Maart en toe middel April. Dit is te betwyfel of hy na dese wel Namibië gaan besoek.

Volgens produsente met wie Agriforum in gesprek was, het geloofwaardigheid reeds begin skipbreuk ly omdat hulle nie volgens die aanvanklike ooreenkoms betaal is nie. “Dit het die vraag laat ontstaan of GPL wel die finansiële vermoë het om boere te betaal. Die talle verskonings oor waarom die vraghouers nie die Walvisbaai-hawe verlaat nie, het verdere frustrasies veroorsaak. Sulke gebeurlikhede is betreurenswaardig en nie goed vir boere of die beesvleisbedryf nie,” was enkele van die menings wat teenoor Agriforum gelug is.

GPL was die eerste buiteparty wat toegelaat is om volgens ‘n samewerkingsooreenkoms met Meatco die uitvoerslagmark te betree. In dié verband wil boere weet wie se verantwoordelikheid dit was om die geloofwaardigheid van GPL te ondersoek voordat verslagting toegelaat is, veral omdat dit ‘n onbekende buitelandse onderneming is.

Intussen is Savanna Beef Processors (SBP) en Beefcor nou in ‘n onderhandelingsfase om ook slagooreenkomste met Meatco aan te gaan. Al gemoedsrus wat produsente op die ou end gehad het, was dat die tien vraghouers alleenlik die Walvisbaai-hawe mag verlaat, mits produsente en Meatco betaal is.

“Vir SBP is dit nou ‘n saak van dringendheid om so gou as moontlik die uitvoermark te betree. Ons het Dinsdag (25 April) weer ‘n vergadering met die Meatco-bestuur om aan fyner besonderhede van die memorandum van verstandhouding te werk. Dit sal onder meer duidelik uitspel wie verantwoordelik is vir watter take. SBP sal wel die produsente betaal. Voorts sal die ooreenkoms tot voordeel van beide SBP en Meatco strek,” het besturende direkteur Mecki Schneider by navraag gesê.

Goeie nuus van Mecki was dat SBP-onderhandelinge met ‘n “steakhouse franchise” in Duitsland baie positief is. “Dié groep het 52 restaurante in Duitsland en ‘n verdere 12 in ander Europese lande. Hul gemiddelde jaarlikse besoeksyfer is ses miljoen gaste. “Ons kan hulle bied wat hulle verlang. Ons boer in harmonie met die omgewing, hoë standaarde geld vir dierewelsyn en -gesondheid en so ook ‘n gewaarborgde, aangename eet-ervaring van ‘n natuurlik geproduseerde produk.”

GPL se 12 vraghouers sal nou herverpak word vir bemarking aan nuwe kliënte. Meatco het onderneem om die beste moontlike prys vir boere te probeer realiseer. Verder gaan Meatco nou met GPL onderhandel om in te staan vir ooreengekome N$3 per kg bo die Meatco-prys en bergingskoste by die Walvisbaai-hawe wat na verneem word meer as N$1 miljoen beloop.

Op Roydon se spoor

Agriforum het ‘n Nieu-Seelandse joernalis se hulp ingeroep om Roydon by sy werkadres in ‘n gebou in Christchurch, Nieu-Seeland, vir ‘n onderhoud te probeer opspoor. Dit was toe die adres van sy boekhouers. Hy woon glo in Auckland. Pogings van dié joernalis om Roydon se selfoonnommer te bekom het misluk. ‘n Vrou by die boekhou-onderneming het dié joernalis gevra om sy nommer te laat maar te kenne gegee sy twyfel of Roydon met hom in verbinding sal tree. Roydon is die alleen-direkteur van ‘n paar maatskappye, volgens sy LinkedIn-profiel.

’n Soektog op die wye web lewer min op van Roydon Hartnett afgesien van ‘n omstrede waterprojek (onttrekking en bottelering) saam met Chinese in Nieu-Seeland wat nooit van die grond af gekom het nie. Leemtes in die projekvoorstel en drukgroepe se vrees oor omgewingskade in ‘n sensitiewe gebied blyk die redes te wees waarom die projek nooit van die grond af gekom het nie. In Nieu-Seelandse koerante is destyds berig Roydon beantwoord vrae met “geen kommentaar” en “versuim om inligting bekend te maak”. Hy doen al vir 25 jaar sake met Chinese.

[Bron – AgriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.