Die mensdom bevind hom in van die uitdagendste tye in dekades en vir miljoene mense is oorlewing ’n daaglikse stryd.

Die Verenigide Nasies (VN) se se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) sê in hul gesamentlike landbouvooruitskouingsverslag vir 2022-’31 die oorlog in die Oekraïne verdiep voedselonsekerheid in ’n tyd van reeds verhoogde wêreldwye kommoditeitspryse.

Dit kan teen 2023 nóg sowat 19 miljoen mense by die getal honger en ondervoede mense in die wêreld voeg.

Die organisasies wys daarop die VN-doelwit om hongersnood teen 2030 uit te skakel, sal waarskynlik nie bereik word nie.

Die verslag, wat verlede Woensdag deur die twee organisasies vrygestel is, wys daarop dat pryse van landbouprodukte opwaarts gedryf word deur ’n kombinasie van faktore, insluitend die herstel in vraag ná die die Covid-19-pandemie en die aanbod- en handelsontwrigting wat daarop gevolg het, swak weersomstandighede in van die hoofvoorsieningslande in die wêreld, asook stygende produksie- en vervoerkoste.

Hierdie werklikheid is vererger deur die impak van die oorlog op landbou-uitvoere uit Oekraïne en Rusland, twee hoofverskaffers van graan.

“Sonder vrede in die Oekraïne, sal die voedselsekerheidsuitdagings wat die wêreld in die gesig staar, aanhou vererger – veral vir die wêreld se armstes,” sê Mathias Cormann, sekretaris-generaal van die OECD.

“’n Onmiddellike einde aan die oorlog sal die beste uitkoms wees vir mense in beide Rusland en Oekraïne en vir die baie huishoudings oraloor die wêreld wat gebuk gaan onder skerp prysstygings wat deur die oorlog gedryf word.”

Die OECD-FAO-landbouvooruitskouing word elke jaar deur die twee organisasies gepubliseer en bied produksie-, verbruik-, handel- en prysneigings vir die belangrikste plaas- en visseryprodukte op streek-, nasionale en internasionale vlakke vir die dekade wat voorlê.

Vanjaar se uitgawe vir die tydperk 2022 tot 2031 word egter gekenmerk deur die onsekerhede wat deur die oorlog veroorsaak is en die ekonomiese implikasies daarvan op die wêreldekonomie. Die verslag sluit ’n hoofstuk in met ’n korttermynbeoordeling van hoe die oorlog beide wêreldwye landboumarkte en voedselsekerheid kan beïnvloed omdat die mediumtermyn-impakte nie bepaal kan word op grond van die data wat tans beskikbaar is nie.

WÊRELD SE GRAANSPENS

Die skrywers som dít op waaroor sedert die uitbreek van die oorlog in koerante berig word: Oekraïne en Rusland is van die belangrikste produsente en uitvoerders van akkerbougewasse in die wêreld, veral van koring, gars, mielies, sonneblomsaad en raapsaad.

“Gegrond op die gemiddelde van die afgelope vyf seisoene, het Rusland en die Oekraïne onderskeidelik 10% en 3% van wêreldwye koringproduksie uitgemaak. Rusland en Oekraïne is die eerste en vyfde grootste koringuitvoerders, wat onderskeidelik 20% en 10% van globale uitvoere uitmaak,” bevestig die verslag.

Beide lande het ’n belangrike rol gespeel in die verskaffing van koring aan internasionale markte, insluitend aan die Nabye Ooste en Noord-Afrika waar koring die belangrikste stapelvoedsel is.

Rusland en Oekraïne is ook verantwoordelik vir 20% van die wêreld se garsproduksie, en is onderskeidelik die derde en vierde grootste uitvoerders.

Daarbenewens is die Oekraïne die wêreld se grootste produsent van sonneblomsaad, gevolg deur Rusland. Saam produseer hulle meer as 50% van die wêreldwye uitset. Boonop maak baie boere staat op Rusland vir die uitvoer van kunsmis.

Die vooruitskouing kyk na die wêreldwye voedselsekuriteitsimpakte van die oorlog deur ’n model wat verskeie scenario’s stel vir die oes- en uitvoer van alle gewasse in die Oekraïne, en op die uitvoer van koring uit Rusland vir die volgende bemarkingseisoen ( 2022-’23). Die skrywers projekteer die impak van hierdie scenario’s op internasionale koringpryse.

As Oekraïne sy vermoë om uit te voer ten volle verloor, kan dit lei tot ‘n styging van 19% in die wêreldwye koringprys. As die Oekraïne se uitvoerkapasiteit met 50% verminder word en Rusland se uitvoere is 50% van die normale hoeveelheid, sal koringpryse met 21% styg.

In die mees ekstreme scenario waar Russiese uitvoere met 50% verminder word en Oekraïne niks kan uitvoer nie, sal koringpryse 34% hoër wees as sonder die oorlog.

MILJOENE BLOOTGESTEL AAN ONDERVOEDING

Hoë voedselpryse stel miljoene meer mense aan die risiko van ondervoeding bloot.

In ‘n afsonderlike ontleding gegrond op die ontwikkeling van internasionale pryse, toon die FAO-projeksie dat ondervoeding wêreldwyd met ongeveer 1% sal toeneem in 2022-’23, wat ‘n toename van tussen 8 en 13 miljoen mense beteken, afhangend van die erns van die uitvoervermindering.

“’n Scenario wat ‘n ernstige uitvoertekort uit Oekraïne en Rusland in 2022-’23 en 2023-’24 simuleer met die veronderstelling dat daar geen wêreldwye produksiereaksie is nie, dui op ‘n toename in die aantal ondervoede mense van byna 19 miljoen in 2023-’24.

“Dit vererger die onlangse toename in wêreldwye ondervoeding as gevolg van die pandemie,” beklemtoon die verslag.

“Hierdie stygende pryse van voedsel, kunsmis, veevoer en brandstof, sowel as strawwe finansiële toestande, verhoog menslike lyding oraloor,” het die FAO-direkteur-generaal, QU Dongyu, gesê.

VOLHOUBARE ONTWIKKELINGSDOELWITTE

Die verslag herinner ook daaraan dat die wêreldgemeenskap nie die doelwit uit die oog moet verloor om die 2030-agenda en die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik nie.

Die skrywers fokus op die VN se SDG2 oor Zero Honger sowel as die doel om aardverwarming teen 2050 tot onder 2 grade Celsius te beperk soos ooreengekom in die 2015 Parys-ooreenkoms en die rol wat landbou hierin kan en moet speel.

Die FAO en OECD verwag die SDG2 sal nie sonder bykomende pogings teen 2030 bereik kan word nie. Global voedselverbruik sal na verwagting met 1,4% per jaar oor die volgende dekade styg, hoofsaaklik gedryf deur bevolkingsgroei.

Die verwagte evolusie van diëte word steeds grootliks bepaal deur inkomstevlakke in die komende dekade. In hoë-inkomstelande sal verhoogde kommer oor gesondheid en die omgewing na verwagting lei tot ‘n afname in die per capita verbruik van suiker, en min groei in die verbruik van dierlike proteïen toon.

Daarteenoor word verwag dat verbruikers in middelinkomstelande hul voedselverbruik en die diversiteit van hul diëte sal vergroot, met meer diereprodukte en vette oor die volgende tien jaar.

Diëte in lae-inkomstelande sal egter grootliks op stapelvoedsel steun, en die projeksies dui daarop dat voedselverbruik nie genoeg sal toeneem om SDG 2 teen 2030 te bereik nie.

Regstreekse kweekhuisgasvrystellings (KHG) uit landbou sal na verwagting gedurende die volgende dekade met 6% toeneem, met vee wat 90% van hierdie toename uitmaak.

Daar word nietemin verwag dat landbouvrystellings teen ’n laer tempo as produksie sal groei, danksy opbrengsverbeterings en ’n vermindering in die aandeel van herkouerproduksie.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.