Wintertyd in Namibië is jagtyd en bakkies met Suid-Afrikaanse registrasienommers, goed toegerus vir die jagveld, is geen ongewone gesig op landspaaie nie.

Dit is belangrik dat Suid-Afrikaanse biltongjagters, maar ook Namibiërs wat na Suid-Afrika reis en vleis, biltong en droëwors wil saamneem, ingelig is oor die Vleisraad van Namibië se regulasies in dié verband.

Enige persoon wat van Namibië na Suid-Afrika reis (uitgesluit diegene wat deur Botswana reis), mag tot 25 kg vleis vir eie verbruik saamneem.

Dit sluit ’n maksimum van 10 kg biltong en droëwors in. Die biltong en droëwors moet so droog wees dat dit gebreek kan word.

Hierdie toegelate hoeveelheid is per persoon ouer as 12 jaar, beperk tot ’n maksimum van vier mense wat in ’n groep reis. Hulle kan met ’n voertuig of per vliegtuig reis.

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie vleis nie in die buurland verkoop of op enige wyse verhandel mag word nie. Dit is streng vir eie gebruik.

Indien biltongjagters enige ander byproduk afkomstig van wild soos byvoorbeeld varktande of koedoe- of gemsbokhorings wil saam neem Suid-Afrika toe, moet hulle ’n veterinêre invoerpermit daarvoor kan toon.

Net so moet mense wat meer as 25 kg vleis of meer as 10 kg biltong of droë per persoon na Suid-Afrika wil neem, ook voor die tyd vir ’n kommersiële veterinêre invoerpermit aansoek doen. Die rede daarvoor is dat hierdie groter hoeveelhede nie meer as invoer bloot vir eie gebruik beskou word nie.

Hierdie regulasies is van toepassing op alle wild wat suid van die Namibiese Veterinêre kordonheining gejag is. Dié, ook bekend as die rooilyn, is ‘n veesiektebeheermeganisme wat daarop gemik is om Namibië se beesvleisuitvoerbedryf teen siektes soos bek-en-klouseer te beskerm.

Prof. Peet van der Merwe van die Noordwes-Universiteit se eenheid vir toerismenavorsing in ekonomie, omgewing en samelewing (TREES), doen in ’n artikel in die landboutydskrif Farmers’ Weekly ’n beroep op jagters uit Suid-Afrika om nie die amptelike reëls in Namibië te probeer omseil nie.

“Dit kan op die lang termyn negatiewe gevolge hê, wat dit vir plaaslike jagters baie moeilik kan maak om in Namibië te jag,” maan hy in die artikel.

Van der Merwe sê sy navorsing dui daarop Namibië is die gunstelingbestemming vir Suid-Afrikaanse biltongjagters, met sowat 28 000 jagters uit die buurland wat voor die Covid-19-pandemie jaarliks in Namibië kom jag het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.