Midde verlede week se hernude verhogings in die pryse van petrol en diesel, sê die minis­terie van myne en energie hy soek dringend na alternatiewe invoerstrategieë.

Mnr. Andreas Simon, woordvoerder van dié ministerie, sê dit lyk of die ­situasie in die internasionale oliemark nie verbeter nie.

Nuwe brandstofverkrygingstrategieë vir Namibië kan volgens hom pryse in die land help stabiliseer.

Onderverhaling by brandstofpompe het die Nasionale Energiefonds in Junie volgens Andreas N$142 miljoen gekos. Buiten vir die prys van ru-olie betaal verbruikers volgens hom ook vir dramatiese verhogings in die koste van verskeping.

Gedurende Junie het petrolpryse volgens Andreas na sowat US$160 per vat geklim en die prys van diesel na ongeveer US$166 per vat. Petrol is dus US$13 duurder, terwyl diesel nou US$15 meer per vat kos.

Hoop vir die toekoms lê volgens Andreas in oorwegings deur die ­Verenigde State van Amerika en die Europese Unie om meer Russiese olie na die wêreldmark te laat vloei, ondanks sanksies weens Rusland se oorlog in die Oekraïne. Andreas sê die vrees is dat die sanksies tot verdere prysverhogings sal lei.

“Dit word verwag dat die hoë pryse wat in onlangse weke en maande aangeteken is waarskynlik op die piek in hierdie globale krisis in die oliemark dui, en dat meer positiewe verwikkelinge binnekort verwag kan word,” sê Andreas.

Intussen brei die staatsonderneming in die oliebedryf, Namcor, sy teenwoordigheid in die kleinhandel aggressief uit.

Onlangs het die besturende direkteur van Namcor, mnr. Immanuel Mulunga, gesê die plan is daarop gemik om toegang tot die goeie winste in die vulstasiebedryf te kry.

“Drie jaar gelede het ons begin en nou het ons 11 vulstasies wat operasioneel is, met nog tien op die boeke wat in aanbou is,” het Mulunga gesê.

“Teen Julie 2023 sal ons 27 in werking hê en 33 teen 2024. Ons uitrolplan word deur ons eie balansstaat gefinansier,” het hy bygevoeg.

Volgens Mulunga het die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) ’n hernude versoek om die helfte van Namibië se brandstof in te voer, van die hand gewys.

Mulunga het gesê die land voer maandeliks sowat 100 miljoen liter brandstof in en in Mei het Namcor volgens hom 50 miljoen liter verkoop. “Ons sal 50 miljoen liter sonder die mandaat invoer,” het hy gesê.

Intussen het plaaslike vulstasie-eienaars die regering se dringende ingryping gevra om die volhoubaarheid van die bedryf te beskerm. Die speelveld is volgens eienaars nie gelyk as die reguleerder kleinhandellisensies basies aan homself kan toeken en vulstasies letterlik oorkant bestaande dienspunte kan oprig nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.