Terwyl veilingspryse na verwagting verder sal daal ná dit oor die afgelope weke reeds met sowat 20% gekrimp het, is beesboere optimisties dat hierdie tendens van korte duur sal wees.

Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) sê markte verkeer tans onder druk, weens ’n relatiewe swak reënjaar wat talle veeboere dwing om noodbemarking te doen.

“Die druk op markte sal waarskynlik van korte duur wees – en dalk reeds teen Junie verby wees. Dan behoort die pryse terug na normaal te keer.”

Só sê die LPO-voorsitter, Thinus Pretorius.

“Daar is redelike mededinging in die plaaslike mark en internasionaal is daar ’n groot tekort aan proteïene. Die vraag is net of ons plaaslik die vermoë sal hê om die nodige verslagting te doen,” het hy bygevoeg.

Die LPO is egter optimisties dat die Nieu-Seelandse maatskappy Global Protein Logistics (GPL) die plaaslike mark betree het en kontrakverslagting by Meatco doen.

DROOGTE

Die nuus kom midde ’n besef binne landboukringe dat die afgelope reënjaar swak oor groter dele van Namibië presteer het.

Boere moet aanpassings maak in terme van beskikbare weiding.

“Ek dink ons moet aanvaar ten minste ’n driekwart van die land ervaar tans ’n uitdagende tyd. Die nuwe weidingskaarte het verlede week Vrydag uitgekom en ek dink dit is ’n realiteit. Ons moet hiermee vrede maak en rondom dit begin beplan,” sê Pretorius.

Hy sê volgens satellietkaarte wat deur die Namibia Rangeland Forum bygehou word, blyk dit dat dit hoofsaaklik slegs die westelike helfte van Otjozondjupa is waar die weiding redelik is.

PRYSE DAAL

Pretorius sê veeboere doen tans noodverkope op plaaslike veilings en dat die prys reeds met sowat 20% van sowat N$40 per kg vir ’n speenkalf na N$30 per kg gedaal het.

Hy is van mening die prys sal verder daal, maar voeg by dat dit ooreenstem met die Suid-Afrikaanse prys, wat tans op sowat N$32 tot N$34 per kg staan.

Pretorius sê dienooreenkomstig het pryse vir verslagting ook ietwat gedaal, maar dit handhaaf steeds hoër vlakke as die Suid-Afrikaanse prys.

“In Suid-Afrika lê pryse tussen N$50 en N$55 per kg, terwyl die plaaslike prys tot onlangs toe nog tussen N$60 en N$65 gestaan het.

“Dit het intussen verder tot tussen N$58 en N$60 gedaal, maar dit is steeds sowat 10% tot 15% beter as die Suid-Afrikaanse prys.

“Ek dink ons is onder druk, maar ons is nog nie in die situasie waar ons in 2019 was nie. Daar is dele van die land wat reën gekry het. Ons kan tot ’n mate die skok van die abnormale reënseisoen absorbeer in die wete dat ons in die najaar wel bemarking van slagbare diere sal kan doen.

“Dit is egter ’n gegewe dat ons alternatiewe planne gaan moet maak,” het Pretorius gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.