Namibië het tussen Oktober en Desember 2022 altesaam N$4,4 miljard verdien uit die uitvoer van landbou-, bosbou- en visserye-kommoditeite, terwyl die rekening van invoere oor dié tydperk op N$1,2 miljard gestaan het.

Dit volgens ’n verslag deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA), wat onlangs vrygestel is.

As daar alleen na landboukommoditeite gekyk word, was die verdienste uit uitvoere sowat N$1,6 miljard, terwyl die invoerrekening op N$0,7 miljard gestaan het.

In die vierde kwartaal van 2022 het Namibië ook 33 918 ton beheerde graangewasse geproduseer – ’n verbetering op verlede jaar, toe 23 596 ton in dieselfde tydperk geproduseer is.

Die NSA noem egter dat die gemiddelde prys vir petrol en diesel oor die tydperk op onderskeidelik N$20,08 per liter en N$23,02 per liter gestaan het, wat tot onwrigtings in die sektor gelei het en die kwesbaarheid daarvan vergroot het – veral in terme van wisselvallige pryse.

“Dit is ’n toename as dit vergelyk word met die N$15,02 per liter vir petrol en N$14,88 per liter vir diesel wat tydens kwartaal vier in 2021 betaal is,” lui die verslag.

BEESBEMARKING

Tydens die laaste maande van 2022 is altesaam 55 851 beeste bemark – ’n verbetering van 3,5% op 2021 se syfers.

Hiervan is sowat 35 346 beeste lewend uitgevoer. Die geraamde waarde van die beeste is sowat N$376,3 miljoen.

Veilingspryse het egter reeds tussen Oktober en Desember met 11% gedaal – met hoofsaaklik tollies, speenkalwers, maer koeie en store se pryse wat afwaarts geneig het. Daarteenoor het pryse tydens die ooreenstemmende tydperk in 2021 met 16% gestyg.

In die laaste kwartaal van 2022 is die beste prys van N$40,23 per kg vir tollies betaal, en ’n gemiddelde prys van N$38,05 per kg vir speenkalwers. Die pryse van maer en vet koeie was die laagste – teen onderskeidelik sowat N$24,74 per kg en N$31,86 per kg.

KLEINVEE

Terselfdertyd is meer kleinvee in die vierde kwartaal van 2022 bemark. Altesaam 147 0007 bokke en skape is in die tydperk bemark, in vergelyking met 111 302 stuks kleinvee in dieselfde tydperk in 2021.

Altesaam 70 710 lewende skape ter waarde van N$85,4 miljoen is in die vierde kwartaal uitgevoer, teenoor 60 787 in die ooreenstemmende periode in 2021.

Die prysindeks vir geweegde skaap het ’n afname van 7,9% in die tydperk ervaar. ’n Jaar vantevore – in die vierde kwartaal van 2021 – het dit ook met 5,8% gedaal.

Terselfdertyd het die uitvoer van bokke toegeneem vanaf 34 189 in die vierde kwartaal van 2021 na 43 387 in die vierde kwartaal van 2022. Die waarde wat deur dié uitvoere gegenereer is, het op N$39,9 miljoen gestaan.

Tussen Oktober en Desember verlede jaar het die gemiddelde veilingspryse vir bokke tussen 15,4% gedaal, terwyl dit ’n jaar vantevore met 3,2% verstewig het. Die ergste dalings is onder veilingspryse vir bokramme waargeneem, wat met 32,5% afgeneem het, en die prys vir bokooie met 24,4%. Die pryse vir bokkapaters het met 7,2% gekrimp, terwyl dit ’n jaar vantevore met 6,5% gestyg het.

HOUT EN HOUTSKOOL

Tydens die vierde kwartaal van 2022 het Namibië ’n handelsurplus van N$242,9 miljoen aangeteken as dit by hout en houtverwante produkte kom.

Dit is ’n verbetering op 2021 se surplus tussen Oktober en Desember, wat op N$186,7 miljoen gestaan het.

Houtskool ter waarde van N$314,9 miljoen is die meeste uitgevoer, gevolg deur naaldhout ter waarde van N$37,6 miljoen.

Die meeste hiervan het na Suid-Afrika gegaan (24,7%), gevolg deur uitvoere na Duitsland (11,4%) en na Griekeland en Nederland (8,8%).

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.