Namibië is een van die lande in Suider-Afrika wat die swakste vaar in terme van die insluiting van innoverende wetenskaplike tegnologie (STI’s) in die landbousektor om klimaatsverandering teen te werk.

Dit aldus ’n studie deur die sentrum vir die koördinering van landbounavorsing en -ontwikkeling vir Suider-Afrika (CCARDESA) binne die Suider-Afrikaanse gemeenskap (SADC)-streek. Buiten vir Namibië, is Botswana, Eswatini, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe ook by die navorsing ingesluit.

Slegs Eswatini en Mosambiek het swakker in terme hiervan gevaar, terwyl Namibië se insluiting van STI’s in die landbousektor vergelykbaar met Zambië was.

Lande soos Botswana, Tanzanië en Zimbabwe vaar beter as Namibië in die verband.

TEKORTE

Volgens die verslag is daar ’n tekort aan STI’s in die meeste SADC-lande se landbousektore, wat beteken dit is baie kwesbaar vir klimaatsverandering.

Dit kan op die beurt daartoe lei dat landbouproduktiwiteit afneem – soos dit reeds die geval is in die meerderheid van die lande, sê CCARDESA.

Dit het ’n negatiewe invloed op mense se lewensbestaan, voedsel- en voedingsekuriteit omdat die oorgrote bevolking in die streke van landbou en natuurlike hulpbronne afhanklik is vir hul voortbestaan.

CCARDESA sê die afname in die produktiwiteit van SADC se landbousektor word hoofsaaklik deur klimaatsverandering en –wisselvalligheid gedryf.

“As navorsing en innovering behoorlik verbind kan word tot ontwikkelingsinisiatiewe, verbeter dit ook innoverende praktyke binne landbou- en voedselstelsels en raak dit meer weerstandig teen klimaatsverandering. Boonop kan dit ook beter op die eise van ontwikkeling reageer,” lui die verslag.

IMPLIKASIES

CCARDESA sê die huidige stand van sake beteken die streek se landbousektor is hoogs vatbaar vir die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering, wat uiteindelik gevolge soos swak ekonomiese ontwikkeling, armoede, maatskaplike onstabiliteit en erge ongelykhede in inkomste in die streek tot gevolg het.

“Dit word reeds in die streek gesien,” sê die sentrum.

’n Suksesvolle strategie om STI’s ’n hoofstroom binne die landbousektor te maak, moet op “slim landboupraktyke, navorsing en onderrigstelsels val”. Dit moet gerugsteun word deur klimaatslim-beleide en ’n bevorderlike omgewing of landelike infrastruktuur.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.