Op verbruikers met ’n soettand wag ’n bitter nasmaak wanneer hulle ná 7 April suiker in hul winkeltrollie laai.

Die prys van witsuiker styg volgende Donderdag met 20 persent.

Mnr. Ian Collard, voorsitter van die Namibiese Landbouhandelsforum (ATF), sê in ’n verklaring ’n styging in die prys van witsuiker is onvermydelik aangesien suikerverpakkers in die land dit “uiters moeilik” vind om genoegsame hoeveelhede vanaf verskaffers binne die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) in te voer.

Suid-Afrika en Eswatini (Swaziland) is die enigste Sacu-lande wat suiker verbou.

Hy sê Namibië en die ander Sacu-lande wat netto invoerders van suiker is, kon nog altyd genoegsame hoeveelhede wit- en bruinsuiker uit dié twee lande bekom.

“Verskaffing deur hierdie twee suikerproduserende lande het egter die afgelope jare nie net duurder geword nie, maar neem ook elke jaar vanaf Desember tot Maart af wanneer die produksieseisoen eindig,” sê Collard.

Hy sê lande soos Namibië is genoodsaak om buite die handelsunie na suikerverskaffers te soek. Die onluste verlede jaar in KwaZulu-Natal sowel as in Eswatini en stakings in die suikerbedryf het tot kleiner oeste gelei.

Daarom het Suid-Afrika en Eswatini nie meer verfynde suiker beskikbaar nie en die nuwe oesseisoen het nog nie begin nie.

Collard sê nie een van dié twee lande kan in April en Mei suiker na Namibië uitvoer nie.

Aangesien die twee lande tariefbeskerming geniet, moet Sacu-lande ’n reuseheffing van 40% betaal wanneer hulle suiker van elders in die wêreld invoer, verduidelik hy.

Collard sê van die suikerverpakkers in Namibië het in die lig hiervan geen ander keuse as om die prys te verhoog nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.