Terwyl daar nog ‘n moontlikheid op reën vir Namibië tot die tweede helfte van Mei is, word báie droë toestande tot November of Desember 2022 verwag.

Só gesels die konsultant-landbouweerkundige, Johan van den Berg, in sy jongste weervooruitskouing wat Dinsdag uitgereik is.

“Die La Niña wat steeds teenwoordig is en toestande in die Indiese Oseaan wat ook bevorderlik vir reën oor die volgende maande sal wees, is dit positiewe tekens vir reën in middel- tot láátsomer”, het hy gesê.

La Niña word dikwels met toestande wat “natter as gewoonlik is” in Suider-Afrika vereenselwig.

Van den Berg sê daar heers nog groot onsekerheid oor weerstoestande oor die langer termyn, veral vir die lente en somer van 2022 tot 2023.

“Tans is daar bykans ‘n gelyke kans vir La Niña-toestande om voort te duur, of neutrale toestande om oor te neem. Die kanse is tussen 40% en 45% in beide gevalle. Selfs al sou neutrale toestande in die Niño-gebiede posvat, kan die huidige La Niña sy houvas op weerstelsels oor die volgende maande behou.

“Die waarskynlikheid dat ‘n El Niño gaan vestig en moontlik dan droë toestande in die komende somer veroorsaak, staan op ‘n baie lae 15%,” het hy bygevoeg.

Van den Berg meen egter beter sekerheid oor die vordering van La Niña- of neutrale toestande sal teen Augustus bestaan.

TEMPERATURE

Hy sê temperature in April gaan nog koeler raak, terwyl ‘n skerper daling in Mei verwag word.

In Suid-Afrika word daar selfs ryp in Mei verwag, terwyl baie koue toestande vanaf die tweede helfte van Junie tot en met die tweede helfte van Augustus verwag word. Láát ryp is ook ‘n moontlikheid in September en selfs tot in Oktober.

Van den Berg voeg by dat temperature reeds begin daal het en alhoewel dit nie koud genoeg is om ryp te veroorsak nie, is temperature van onder 10 °C tussen 24 en 28 Maart op plekke in die somerreënvalgebied in Suid-Afrika aangeteken.

“Temperature van minder as 10 °C is nie genoeg vir die volgehoue groei en ontwikkeling van mielies en sojabone nie, dit kan die groei daarvan stadig maak. Dis veral láát geplante sojabone en mielies wat ‘n risiko vir oesverlieste loop,” het hy gesê.

LA NIÑA DUUR VOORT

La Niña-toestande duur voort met atmosferiese toestande soos sterk handelswinde in die westelike Stille Oseaan, seeoppervlaktemperature wat koeler as normaal is in die Niño-gebiede en die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), wat in ‘n positiewe fase bly.

“Daar was ‘n aanvanklike verswakking van die La Niña en gepaardgaande aanwysers in Januarie, maar dit het in Februarie en Maart opnuut versterk,” het hy gesê.

Die SOI, as ’n maatstaf van die verband tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels, handhaaf ‘n sterk neiging tot La Niña-toestande vanaf omtrent Julie verlede jaar.

“Op ‘n skaal van -30 wat ‘n sterk El Niño sou aandui tot 30 wat op ‘n sterk La Niña sou dui, staan die huidige 30 dae gemiddeld op 13,03. In Januarie het dit op net sowat 1,5 gestaan, waarna dit ‘n piek van 12,99 in dieselfde maand bereik het.

Van den Berg sê ook die Indiese Oseaan-dipool (IOD) bly neutraal, met voorspellings wat min veranderinge tot en met Junie aandui. Daarna kan dit weer na ‘n negatiewe fase beweeg, wat goed is vir somerreën oor Suider-Afrika.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.