’n Vermeende renosterstroper is dood en nog een gewond tydens ’n skietery Saterdag tussen ’n teenstropingseenheid en drie vermeende stropers op ’n plaas sowat 120 km oos van Windhoek.

Die beseerde stroper is in hegtenis geneem en die derde verdagte wat aanvanklik op die vlug geslaan het, is gisteroggend in hegtenis geneem.

Die eienaar van Namibia Wildlife Protection, Salmon Vermaak, wie se teenstropingseenheid op die plaas gestasioneer is, sê die spanleier het hom omstreeks 11:30 Saterdag laat weet ’n vermeende stroper is opgemerk waar hy ’n renosterkoei en haar kalf volg.

Vermaak het opdrag aan sy span gegee om skote in die lug af te vuur om die stropers af te skrik. Die taktiek het gewerk, en die stropers het weggehardloop, terwyl die span hulle agterna gesit het.

Volgens Vermaak het die plaas ’n uitstekende beveiligingsnetwerk vir boere en is waarskuwings onmiddellik uitgestuur. Boere het dadelik gereageer en het padblokkades opgestel. Tydens die jaagtog het die stropers op die teenstropingseenheid begin skiet wat op hul beurt teruggevuur het.

Een van die stropers is noodlottig gewond en tydens arrestasie is nog een beseer. Die derde verdagte het op die vlug geslaan.

Die soektog het egter voortgeduur en hy is gisteroggend in hegtenis geneem drie plase van waar die voorval plaasgevind het.

Vermaak sê ’n sak met twee vars renosterhorings is by die verdagtes gevind. Die horings is van ’n renosterbul wat gestroop is, voordat die stropers hul visier op die koei gestel het. ’n Jaggeweer, knaldemper, byl en twee selfone is ook gevind. Dit is die eerste voorval van renosterstropery vanjaar.

Vermaak sê verskeie vorige voorvalle van stropery het al op die plaas voorgekom en om te verhoed dat dit verder geteiken word, word die naam nie bekend gemaak nie. Die polisie ondersoek die saak en die liggaam van die stroper is na die lykshuis vir ’n nadoodse ondersoek geneem.

Volgens die polisie is ’n saak van moord teen die teenstropingseenheid aanhangig gemaak wat na die prokureur-generaal verwys sal word om oor vervolging te besluit.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het die voorval bevestig.

“Dit is betreurenswaardig dat ’n persoon sy lewe verloor het. Ons prys die span wat betrokke was vir hul werk in die agtervolging van die verdagtes. Dit is weer ’n aanduiding dat misdaad nie lonend is nie.” Stropers het verlede jaar 77 renosters gestroop, teenoor die 45 in 2021.

Verlede jaar se syfer is die derde hoogste sedert 2013 en word net oorskry deur die 97 renosters wat in 2015 gestroop is en die 84 in 2018.

Statistiek toon 43 renosters is in 2020, 61 in 2019, 55 in 2017, 66 in 2016, 56 in 2014 en nege in 2013 gestroop.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.