NamPower bedink verligtende strategieë oor hoe om kragvoorsiening te hanteer ingeval sy beleërde Suid-Afrikaanse eweknie Eskom nie meer sy kontraktuele verpligtinge teenoor Namibië kan nakom nie.

Dit volgens inligting uit NamPower se binnekring en ten spyte dat die maatskappy tevore gesê het beurtkrag word nie hier in die vooruitsig gestel nie.

Ander kragvoorsieners in die streek soos die Zimbabwe Electricity Supply Authority (ZESA) en Zambia Electricity Supply Corporation, trek ook noustrop.

NamPower sê dis onwaarskynlik dat Namibië beperkinge in die gesig staar met betrekking tot sy vermoë om genoeg krag aan alle gebruikers in die land te voorsien, vanweë die “goeie verhoudinge” wat tussen die twee kragvoorsieners bestaan.

Inligting uit NamPower se binnekring en bekend aan ons susterkoerant Namibian Sun, dui egter aan die maatskappy se bestuur het wesenlike kommer dat deurlopende kragvoorsiening onder die omstandighede nie langer gewaarborg is nie.

“Dis duidelik NamPower sal nie in hierdie stadium erken die kanse van beurtkrag in Namibië is ’n werklikheid nie. Hulle sal nie paniek wil veroorsaak nie, maar die feit is beurtkrag is nie ’n kwessie van ‘of’ nie, maar eerder wanneer dit Namibië gaan tref,” het ’n ingeligte in NamPower gesê.

IN DIE STREEK

Beurtkrag word reeds in beide Suid-Afrika en Zambië ervaar – ’n situasie wat Eskom sê vir die volgende twee jaar gaan voortduur.

Zambië se Zesco het beurtkrag op ’n rotasiebasis ingestel weens verswakte kragopwekking weens die lae watervlak van die hidrokragstasie by die Karibadam.

NamPower koop krag van beide grootmaat kragvoorsieners bykomend tot ander vervaardigers in die Suider-Afrikaanse Kragpoel (SAPP).

Eskom is ook onder druk van die breë Suid-Afrikaanse publiek wat aandring dat kragvoorsiening aan kliënte buite sy landsgrense gestaak word om eerder voorkeur aan sy binnelandse behoeftes te gee.

NamPower se rede hoekom dit nie voorsien dat kragvoorsiening onder enige druk geplaas gaan word nie, is volgens die maatskappy sy goeie verhoudinge met Eskom wat ononderbroke voorsiening verseker.

In sy jaarverslag van 2021 het NamPower wel sy afhanklikheid van Eskom as ’n risiko gelys en bygevoeg dit moet ’n vervangingstrategie vir voorsiening ontwikkel.

Ook moet Namibië ’n geleidelike vermindering sowel as herstrukturering van invoere implementeer.

Volgens ooreenkomste voer NamPower 200 megawatt (MW) van Eskom en 100 MW van Zesco in.

“NamPower en Eskom het ’n kragvoorsieningsooreenkoms (PSA) onderteken wat gebaseer is op die goeie bilaterale verhoudinge tussen die twee lande. Danksy die streeksamewerking wat via die SAPP gevestig is, gaan die rolspelers in kragvoorsiening PSA’s aan wat verleng kan word,” het NamPower gesê.

“Die bilaterale ooreenkoms met Eskom bestaan reeds vir dekades.”

Volgens NamPower koop hy vooruit elektrisiteit aan, gebaseer op projeksies.

“Ons ontwikkel ’n maksimum aanvraag en ladingvoorspelling gebaseer op wat ons beskou as vooruit voorsieningsooreenkomste sowel as eie opwekkingsprojekte. Ons sal dus voortgaan om voldoende voorsiening en die versnelling van plaaslike opwekkingskapasiteit te verseker.”

Samewerking in die SAPP word jaarliks hersien.

“Streeksamewerking en sekuriteit van voorsiening binne die SAPP is noodsaaklik. ’n Vervangingstrategie vir voorraad word opgestel en word jaarliks hersien om te verseker ons pas aan by die veranderende omgewing.”

Eskom se voorsitter, Mpho Makwena, sê die kragvoorsiener hoop om ’n mate van voorspelbaarheid vir Suid-Afrika te lewer terwyl die maatskappy sy omkeerplan uitvoer.

Dit sal ’n ‘sekere vlak’ van permanente beurtkrag of fase 2 of 3 vir minstens twee jaar vereis sodat kritieke instandhouding by kragstasies gedoen kan word.

WAARSKUWINGS

Hoewel oor die jare hande gevat is met verskeie onafhanklike kragprodusente, het Namibië nooit werklik tot die punt gekom om geld beskikbaar te stel om kragopwekkingsmeganismes in te stel nie. In 1992 het die voorsiener se eerste direkteur ná onafhanklikwording, wyle Polla Brand, voorbrand gemaak vir die skep van ’n onafhanklike basisladingprodusent. Dit het egter op dowe ore geval.

Brand het destyds gewaarsku “sonder ’n onafhanklike energievoorsiener, sal beleggings die meeste ly en gevestigde industrieë sal gedwing word om te sluit”. Hy het gemaan Namibië het geen ander opsie as om die potensiaal van Epupa te ondersoek as ’n bron van bekostigbare en betroubare energie vir die land nie.

Ten spyte van volgehoue praatjies oor die ontwikkeling van die Epupa Hidrokragdam, is die planne nooit uit teorie na praktyk gevoer nie. Dieselfde was die geval met die Baynes Hidro-kragstasie in die noordooste van die land.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.