‘n Oorplaatjiestelsel vir die vooraf keuring van alle veterinêre vervoerpermitte – insluitend uitvoerpermitte – het Woensdag in werking getree.

Die ministerie van landbou, water en bosbou het gesê die stelsel “sal monitor of al die beeste se oorplaatjies geregistreer is en of die vorige bewegings aangeteken is, voor dit op die vervoerpermit aangebring word en die beeste na die volgende bestemming verskuif kan word”.

Die doel van die vooraf keuring is om seker te maak die beweging van geregistreerde beeste is naspoorbaar – van die plek waar hulle oorspronklik vandaan kom asook alle ander daaropvolgende verskuiwings.

“Hierdie is ‘n noodsaaklike stap om die registrasie van alle beeste af te dwing, ingevolge die Dieregesondheidswet van 2011 asook die regulasies vir vee-identifikasie van 2017,” het die ministerie gesê.

Die stelsel sal verseker dat alle inligting wat in die sentrale databasis ingevoer word, akkuraat en betroubaar is vir sertifisering en ook dat dit aan vereistes vir die naspoorbaarheid van vee voldoen.

“Daarom word alle vee-eienaars aangeraai om aanlyn van die NamLITS-stelsel gebruik te maak, of die kantoor van hul naaste staatsveearts te besoek vir die verifiëring van huidige oorplaatjies wat geregistreer is, deur aansoek vir hul kuddeverklarings te doen,” het die ministerie gesê.

Die ministerie het beklemtoon dit is noodsaaklik dat verifiëring gedoen word binne vyf werksdae vóór die vee verskuif word. Dit is om onnodige beslommernisse uit die weg te ruim.

Die ministerie se amptenare het gewaarsku dat geen veeartsenykantoor aanspreeklik gehou sal word vir verliese wat gely word waar vee-eienaars nie die nodige stappe gedoen het om seker te maak hul vee word betyds geregistreer en geverifieer nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.