Die belangrikste faktor vir ʼn teler se winsgewendheid is bestokking, terwyl vrugbaarheid en daarnaas ’n dier se prestasie die tweede en derde belangrikste is.

Só gesels Mecki Schneider, bekende Brahmaan- en Simmentaler-stoetteler. Die Schneiders – Mecki, sy vrou Brigitte, hul seun Reimo en skoondogter Sonja het op Saterdag 28 Mei ’n Okabra-boeredag op hul plaas Okamutombe naby Grootfontein aangebied, met vrugbaarheid as vanjaar se tema. Die geleentheid is deur sowat 140 mense bygewoon.

“Jou grootste maatstaf vir sukses is produksie per ha en dus wins per ha,” het hy gesê.

As dit by vrugbaarheid kom, kan die beste vordering gemaak word deur op die bul te fokus, het hy gesê.

“Jy sal baie beter vordering maak as jy op die bul se eienskappe fokus om verbetering in jou kudde teweeg te bring en in ʼn kleiner mate op jou vroulike diere.”

Die Schneiders fokus op kuddevaars, hul vrugbaarheid en genetiese potensiaal. “Ons elimineer ook koeie, maar die uitskakeling van een koei is nie ʼn groot faktor nie,” het hy gesê.

“Die omgewing en genetika is die twee grootste bydraende faktore tot ʼn dier se vrugbaarheid. Dié twee faktore moet gesinchroniseer wees,” het hy gesê. Hy waarsku egter dat telers nie diere net op grond van een enkele eienskap moet kies nie, maar ʼn gebalanseerde benadering moet volg.

REËN

Mecki sê die onvoorspelbaarheid van reën in Namibië maak dit baie uitdagend om met vee te boer.

Hy meen talle droogtes is dalk “mensgemaak” en dat dit verbeter kan word deur goeie weidingsbestuurspraktyke toe te pas.

“Ons boere is geneig om te stadig te reageer, om verskeie redes,” het hy gesê.

Die Schneiders het reënvalrekords van oor die afgelope 96 jaar op Okamutombe. Hiervolgens is hul langtermyngemiddeld tussen 400 mm en 500 mm reën per jaar, maar dit toon groot wisselvalligheid van jaar tot jaar.

“Dit is moeilik om in hierdie omstandighede te werk, want jy weet nie wat volgende jaar inhou nie,” het hy gesê.

“Hierdie is die uiterstes waartoe ons in Namibië moet aanpas,” het hy gesê.

VROULIKE KUDDE

“As dit by die vrugbaarheid van jou vroulike kudde kom, begin jy by die teelseisoen, ongeag of dit een of twee seisoene is. Jy pas dit by jou produksiesiklus aan. Dit vorm die basis en is ʼn kragtige manier om vrugbaarheid mee te verbeter,” het hy gesê.

“In ons geval doen ons dit ses tot agt weke voor daar genoegsame somerweiding is (middel Januarie tot middel April).

“Die voordele is dat die vroulike diere hul kondisie kan behou, dat die piek produksie van jou koei en kalf saamval met wanneer die beste weiding beskikbaar is en dat jy kontemporêre groepe het – wat belangrik in teling is.

“Jy kan ook beter vir vrugbaarheid selekteer deur koeie met hul kontemporêre groepe te vergelyk,” het hy gesê.

“Op Okamutombe is daar ook ʼn winterteelseisoen, van middel Junie tot middel September duur.

“Die somerkalwers word tussen middel September en November gebore, en die winterkalwers vanaf middel Mei tot middel Junie.

Hy sê die twee teelseisoene pas hulle, want hulle kan die helfte minder bulle aanhou.

“Die bulle word in die winter en somer benut en staan nie en doen niks vir nege maande nie. So bespaar ons uitgawes op ons bulle,” het hy gesê.

Die Schneiders doen twee maal per jaar swangerskaptoetse en gereelde kondisietellings omdat dit bewys is om ’n baie sterk invloed te hê of ’n koei dragtig raak of nie.

Alle verse wat nie dragtig raak nie, word verkoop. Hy gee ook goeie koeie tot ʼn halwe jaar lank kans om dragtig te raak, veral in droogtejare. Binne die kudde word vaars en vroulike diere roteer, terwyl Mecki ook van kunsmatige inseminasie gebruik maak om nuwe genetika in die kudde in te bring – veral aangesien nuwe bulle nie oor die afgelope jare vanaf Suid-Afrika ingevoer kon word nie.

Mecki sê beeste se groei in hul kudde is middelmatig, wat goed is.

“Ons fokus op vrugbaarheid en die rib- en kruiskyfvet, want ons glo hierdie diere bereik gouer volwassenheid, het ʼn beter kondisietelling en is dus makliker bemarkbaar as slagbees – direk vanaf die veld.”

Die Schneiders beskik ook oor goeie data oor hul kudde se voeromset, met hul diere wat by die nettovoedselinname-stasie in Hochveld getoets word.

GENETIKA

Sonja sê die ideale dier vir Okamutombe is ʼn dubbele kurweknakker – ʼn kalf met ʼn gemiddelde of ietwat ondergemiddelde gewig tydens geboorte.

“Dan soek ons ʼn vinnige groeier wat op 200 dae ʼn sterk speenkalf sal wees.

“Daarna moet die kalf se groeitempo afkom sodat ons ʼn volwasse koei met ’n gemiddelde of ondergemiddelde gewig het.

“Ons soek nie ‘monsters’ in ons Namibiese velde nie. Ons het kompakte diere nodig wat droogtes in die veld kan oorleef,” het sy gesê.

Sy het verduidelik dat ʼn dier se genetika netso groot invloed op sy vrugbaarheid het as die omgewing.

“Okabra maak van geraamde teelwaardes (EBV’s) gebruik, wat al oor die jare bewys is om te werk,” het sy verduidelik.

“Twee EBV’s word gebruik om ʼn dier se vrugbaarheid aan te dui – die skrotumgrootte en dae tot kalwing.

“ʼn Skrotum se omtrek word gekorreleer met sy vrugbaarheid – groter skrotums kan op ʼn beter gehalte en meer semen dui. Tog word té groot skrotums as ʼn risiko op beserings in die bos beskou en is dit dus ook nie die ideaal nie,” het sy verduidelik.

“Dae tot kalwing word gemeet van wanneer af die bul die eerste keer by ʼn koei geplaas word totdat sy kalf. So identifiseer ons koeie wat die vinnigste dragtig raak,” het sy verduidelik.

Deur rekordhouding kan daar min of meer vasgestel word wat die dier se genetiese samestelling is, wat hulle help om besluite te maak.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.