‘n Jaarlange skuldvakansie vir diegene met lenings by die staat se studentefonds, die NSFAF – en die moontlik kwytskelding van alle rente op terugbetalings – was gister die enigste splinternuwe verligting wat pres. Hage Geingob tydens sy staatsrede aangekondig het in van die moeilikste ekonomiese tye nog in Namibië se geskiedenis.

Volgende jaar, is belowe, sal die toelaag vir kinders met gestremdhede ook vyfvoudig toeneem; van die huidige N$250 tot N$1 300 per maand.

Die staatshoof het benadruk dat die regering bewus is van die verbruiker se lot en werkverliese weens Covid-19; ‘n pandemie wat die land volgens Geingob verenig het. Jeugwerkloosheid gee hom slapelose nagte, het hy gesê.

Die regering probeer sy bes om met beskikbare middele oplossings te vind, was Geingob se antwoord op die huidige krisistoestande op verskeie fronte.

OORLOG

Die konflik tussen Rusland en Oekraïne skep nou wêreldwyd nuwe onsekerhede, het Geingob benadruk.

“Namibië is hartseer oor die afgryse en verwoesting wat oorlog veroorsaak,” het die staatshoof gesê. “Ons ken en onthou die pyn en swaarkry wat dit veroorsaak…”

Geingob se oproep dat onderhandelinge vrede moet bewerkstellig is met lou, maar bestendige applous begroet.

Die staatshoof het in ‘n omvattende verslag aan die nasie benadruk dat almal in dieselfde bootjie is in voortgesette stormweer. Dit is daarom volgens Geingob ‘n kollektiewe verantwoordelikheid om nasionale belang eerste te stel.

Die president het hard ingeklim onder diegene wat die regering steeds kritiseer vir sy hantering van onderhandelinge met Duitsland oor vergoeding vir die koloniale volksmoorde in die land. Hy het beklemtoon N$20 miljard se bykomende reparasies is vir die regering ook nie genoeg nie.

Geingob se staatsrede het talle temas in onlangse toesprake herhaal.

Namibië se drome moet nie in die oënskynlike verdoemenis van huidige toestande en “die ergste resessie sedert onafhanklikwording” verdwyn nie, het hy benadruk.

Nuwe beleggings in diamantontginning, sonenergie en elektrisiteitopwekking is deur die staatshoof uitgesonder as voorbeelde van “groen lote op die horison van potensiële herlewing”.

Voorgenome opbrengste uit groen waterstof, beraam op beleggings van US$9 miljard, en uiteindelik dalk selfs olie, gaan egter volgens Geingob tyd verg. Namibië wil 5 gigaWatt se energie uit groen waterstof opwek en 2 miljoen ton amoniak vervaardig.

JEUG

Die staatshoof het die jeug aangemoedig om die geleenthede te benut wat spesifiek vir hulle geskep word – nie net met die projek nie, maar ook ander.

Twee persent van alle poste in die staatsdiens sal volgens Geingob vir internskappe gereserveer word. Volgende jaar sal die staat en privaatsektor se nasionale internskap- en vakleerlingprogram afskop.

‘n Ander werkskeppingsprojek is die verdieping van die kanaal by Walvisbaai se vraghouerterminaal tot 16 meter.

Volgens die staatshof het die kabinet tydens sy wegbreekberaad in Maart wysigings aan bestaande planne bespreek, maar hy het nie besonderhede verstrek oor besluite wat hier geneem is nie. Geingob het wel opnuut breedweg opnuut na verbeterde dienslewering, beleidstoepassing en projekbestuur verwys.

Nuwe ontwikkelingsprojekte wat die staatshoof as deel van die Harambee-welvaartplan se tweede hoofstuk vir implementering uitgesonder het, is die oprigting van ‘n kraameenheid by die hospitaal op Onandjokwe, ‘n babasaal vir Swakopmund se staatshospitaal en klinieke vir Onanghulo, Onamafila en Okondjatu.

Die president het gesê die parlement moet vanjaar die lang verwagte wet op toegang tot inligting aanvaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.