Werkende individue wat van werk wil verander, vroeg wil aftree of afgedank word en hul aftreevoordele wil opeis, het dalk net tot 1 Oktober vanjaar kans om dit te doen.

Volgens Artikel 2 van die nuwe Wet op Finansiële Instellings en Markte (FIMA) van 2021 wat ter tafel gelê is, sal mense wat ná 1 Oktober 2022 bedank slegs op 25% van hul pensioen geregtig wees.

Die voorgestelde wet vereis verpligte 75%-behoud van aftreevoordele vir mense wat voor die voorgeskrewe vroeë aftree-ouderdom van 55 jaar uit hul aftreefondse onttrek. Die konsepwet sal onoordeelkundig van toepassing wees op elke aftreefonds wat onder FIMA geregistreer is.

Volgens mnr. Kenneth Matomola, uitvoerende hoof van die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa), sal die konsepwet werkende individue bevoordeel deur te verseker dat ‘n gedeelte van hul spaargeld regdeur hul werkslewe vir aftrede bewaar word, aangesien die gemiddelde lewensverwagting in Namibië 65 jaar is.

Daarteenoor lei die onttrekking van dié spaargeld voor aftrede en die gebruik daarvan vir korttermyn finansiële behoeftes daartoe dat baie mense nie genoeg spaargeld het om na hulself en hul behoeftes om te sien nie, en maak hulle dus heeltemal afhanklik van maatskaplike toelaes of staatspensioen van die regering wanneer hulle aftree, het hy gesê.

Volgens mnr. Tilman Friedrich, ‘n kenner op die gebied van aftreefondse, was dit belangrik om verskeie faktore wat betrekking het op pensioenfondsbegunstigdes aan die een kant en die regering aan die ander kant, teen mekaar op te weeg.

“Daar is twee kante. Vanuit die regering se perspektief en dié van die reguleerder, sal verpligte behoud mense minder afhanklik van die regering maak. Aan die ander kant maak dit dinge minder buigsaam, aangesien mense gewoonlik hul pensioene gebruik om uitgawes voor aftrede te dek, soos in gevalle van werkverliese,” het Friedrich gesê.

Die Simonis Storm-ekonoom, mnr. Theo Klein, het gesê hierdie beleid sal mense aanspoor om hul aftreespaargeld tot hul aftree-ouderdom onaangeraak te laat. “Hopelik sal hierdie beleid die aantal Namibiërs verminder wat met onvoldoende fondse aftree, sodat meer afgetredenes volgens hul voorkeur-leefstyl kan leef.

“Dit sal ook plaaslike batebestuurders bevoordeel aangesien onttrekkings uit pensioenfondse voor aftree-ouderdom beperk sal word, wat bates onder hul bestuur tot ‘n mate sal behou. Dit kan ‘n positiewe uitwerking op die finansiëledienste-bedryf hê,” het hy gesê.

KONSULTASIES

As in ag geneem word dat mense verskillende aspirasies het, soos om vroeg af te tree om in volhoubare sakeondernemings te belê, is konsultasies van kritieke belang.

Matomala het opgemerk “informele” konsultasies oor die regulasiestandaarde het rondom 2017 en 2018 begin – met rolspelers in die bedryf (pensioenfondse) wat deur hul trustees die motivering agter die regulasie verduidelik het.

“Daar is van hulle verwag om skriftelike kommentaar te verskaf.”

Aangesien die wet ook voorsiening maak vir formele konsultasies, het Namfisa die regulasies in die staatskoerant gepubliseer en ‘n openbare kennisgewing uitgereik.

“Die formele konsultasies met rolspelers in die bedryf oor al die voorgestelde standaarde en regulasies onder FIMA is tans in ‘n gevorderde stadium.”

As sodanig het die verkryging van rolspelers se kommentaar oor hierdie standaarde en regulasies op 28 Februarie vanjaar geeïndig. Intussen is Namfisa besig om die insette wat ontvang is, te oorweeg en te evalueer en – waar nodig – verder daaroor met die industrie te konsulteer voordat die regulasies gefinaliseer en deur die minister van finansies vir bekragtiging oorweeg sal word.

Gevolglik word lede van die publiek versoek om te kalm te bly en nie uit hul werk te bedank om hul pensioen terug te kry nie, aangesien die wet nog nie gefinaliseer is nie.

Die finale standaarde en regulasies sal op 1 Oktober 2022 in die Staatskoerant gepubliseer word wanneer FIMA in werking tree. Die konsepregulasies en -standaarde is beskikbaar op die Namfisa korporatiewe webwerf.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.