“Daar is nie geld nie. As ons nie die geld het nie, hoe doen ons dit?”

Dit was gister die antwoord van president Hage Geingob oor die moontlikheid van enige verhogings vir staatsamptenare wat tot 10% eis.

Die opposisieleier, mnr. McHenry Venaani van die Popular Democratic Movement (PDM) wou gister ná die staatsrede by Geingob weet watter maatreëls word deur die regering in plek gestel om die huidige benarde ekonomiese situasie te takel.

Geingob het gesê hy was nie bewus van Moody’s se afgradering nie.

“Deur wie? Ek weet nie hoekom hulle dit gedoen het nie.”

Volgens hom is Swapo oorspronklik deur werkers gestig.

“Hoekom sal ek julle dan iets ontsê wat julle verdien?” Die staatshoof sê die regering is besig met krisisbestuur en niemand is verhogings ontneem “terwyl ons geld gehad het nie”.

“Dit is nou ’n baie ander situasie. Ons is nie besig om hulle te straf nie. Ons is nie bewustelik besig om enigiemand te straf nie.”

Met verwysing na kritiek dat die staatsdiens te veel amptenare in diens het, sê Geingob om dit te verminder, gaan net tot werkloosheid bydra.

Hy het beklemtoon die kwessie moet nie verpolitiseer word nie.

“Ons gee klein dinge soos voordele en behuising.”

McVenaani wou ook by Geingob weet oor sy verhouding met prof. Joseph Diescho wat volgens hom bang is om na Namibië terug te keer omdat hy vrees vir sy lewe.

In reaksie hierop het die staatshoof gesê Diescho was ’n “uitgeworpene” toe hy hom ontmoet het. Hy het sy aanstelling by die Namibiese Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (Nipam) as ’n “goue geleentheid vir ’n geleerde soos hy” beskryf.

“Wat het gebeur – mislukking! Konsultante kry nie huise nie. Hy het ’n huis vir ses maande gekry en twee jaar gebly en nooit water en elektrisiteit betaal nie.”

Volgens Geingob is hy die een wat met Diescho kommunikeer en het hy rekords van “geheime SMS’e”.

“Wie gaan hom doodmaak, wie het tyd vir dit? Ek lag net wanneer hy praat. Baie sê hy val die man aan wat soveel vir hom gedoen het.”

Met verwysing na die volksmoord en onderhandelinge oor vergoeding het Geingob erken “dit is ’n lelike situasie” en die regering moet “verenig teen die Duitsers staan”.

Hy het Venaani daarvan beskuldig dat hy die indruk wil skep dat die Namibiese regering aan die neus gelei word.

“Jy maak asof hulle aan ons dikteer. Onderhandelinge is gee en neem. Ek is ’n man van eenheid en ons baklei. Dit is besig om ons te verdeel, hierdie ding kan probleme veroorsaak. Laat ons nie verdeeld oor die kwessie wees nie.”

Oor Namibië se deelname en sy besoek aan die Dubai Expo het Geingob gesê hy was nie die enigste president daar nie en “almal is onthaal”.

Hy het beklemtoon “beleggings is uitgestelde bevrediging” en het verwys na ’n skrywer wat in ’n boek gesê het “swart mense kan nooit belê nie, hulle dink net sover soos hul neuse”.

“Kom ons dink nie so nie.”

Op ’n vraag of hy nie skaam is dat Namibië nie meer ’n lugredery het nadat Air Namibia bankkrot verklaar is nie, het die staatshoof beklemtoon “dit moes gedoen word”.

“Ons was almal kwaad en teleurgesteld, maar daar was geen winste nie, ons het jaarliks net miljarde betaal en dit net vir die vlag gedoen.”

Geingob het hom ook uitgelaat oor korrupsie en sê hy het briewe aan vyf ministers gestuur oor gerugte wat hy gehoor het en hul antwoorde daarop wou hê. Hul antwoorde sê Geingob het hy aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gestuur.

“Ek is nie ’n regter nie. Ek het hulle verwyder van waar hulle was, dit kan ek wel doen.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.