Die staatsdiens stem vandag en môre of hulle tot ’n staking wil oorgaan. Skole is vir dié twee dae gesluit.

Meer as honderdduisend staatsamptenare kan vanaf agtuur vanoggend tot 17:00 by 150 vaste stempunte en 98 mobiele stempunte hul keuse uitoefen.

Onderwysers, mediese personeel en ander staatsamptenare moet die stemlokale naaste aan hul werkplekke gebruik, volgens mnr. I-Ben Nashandi, uitvoerende direkteur in die kantoor van die eerste ­minister.

“Albei dae is gewone werksdae vir staatsdienswerkers. Die staatsamp­te­nare moet reël om te gaan stem sonder om werk tot stilstand te bring,” sê hy.

LOGISTIEK

Die stemproses sal môre om 17:00 tot ’n einde kom en stembriewe sal onmiddellik by die lokale getel word.

Hierna sal uitslae by die persele opgeplak word voordat stembriewe na verifiëringspunte in die streke gestuur word. Vanaf die streke sal uitslae en stembriewe uiteindelik na die kantoor van die arbeidskommissaris geneem word, waar die finale telling en verifiëring Vrydagaand sal begin.

Me. Loide Shaanika, sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu), sê die lang reisafstande deur die land mag vertragings veroorsaak, maar dat alles moontlik gedoen sal word om die uitslag so spoedig as moontlik bekend te maak.

“Ons wil verseker die proses is so deursigtig en geloofwaardig as moont­lik en dis hoekom ons almal betrek. Ons sal die uitslag aan betrokke partye aankondig, hopelik teen Saterdag of anders amptelik op Maandag,” het sy gesê.

VOORWAARDES

Die vraag wat staatsamptenare met ’n ja of nee moet beantwoord, is of hulle ’n stakingsaksie ondersteun.

Volgens die ooreengekome reëls sal ’n stakingsaksie ook die ontwrigting en belemmering van werk insluit.

Die stemmery volg op die dooiepunt in onderhandelinge oor salarisverhogings vir die boekjare 2021-’22 en 2022-’23.

Ingevolge die stemproses waarop die regering en die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) en Nantu ooreengekom is, mag alle staatswerkers binne die onderhandelingseenhede behalwe weermaglede, polisiebeamptes, tronkbewaarders en intelligensiebeamptes stem.

Die meerderheid gevestigde stempunte sal by streekraadskantore landswyd geleë wees. Mobiele stempunte sal by sekere skole en ministe­riële kantore opgestel word.

Stempunte sal ook by hospitale gevestig wees terwyl mobiele stempunte klinieke en gesondheidsentrums sal besoek, sodat mediese personeel by hul werk kan stem. Hulle sal egter saam met ander nooddienspersoneel nie mag deelneem in enige staking nie, indien uiteindelik besluit word dat tot nywerheidsoptrede oorgegaan word.

Geen politieke party se kleredrag of vertoning van partykleure mag by stempersele sigbaar wees nie en veldtogvoering sal ook nie geduld word nie.

Kiesers moet identiteitsdokumente saambring, saam met werkskontrakte en betaalstrokies vir diegene wat onlangs by die staatsdiens aangesluit het en nog nie op die stemrol aangeteken is nie. Werkers moet binne die streek waar hulle aangeteken is, gaan stem.

ONDERWYS

Ondanks die regering se ooreenkoms tot reëls vir die stemproses en die onderwysministerie se besluit om skole te sluit sodat onderwysers kan deelneem, is die regering gekant teen ’n staking.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het dié week gesê skoolkinders sal ly onder ’n staking. Volgens haar werk 28 773 onderwysers vir die staat en gee hulle onderrig aan 544 870 laerskool- en 208 098 hoërskoolleerlinge.

Veral kinders in koshuise sal erg deur ’n staking beïnvloed word, sê sy. Eksamens bestem vir September, Oktober en November sal ontwrig word en selfs die volgende akademiese jaar sal negatief beïnvloed word, sê sy.

Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het ook Dinsdag in ’n vrystelling gesê die regering het nie geld nie en ’n staking in die staatsdiens sal die ekonomie nog verder verswak, dienslewering kniehalte en die ekonomiese herstelpogings belemmer.

“Ons wil uitlig dat nagevolge vir die regering, vir staatsbeamptes en vir die hele land sal volg.

“Ons erken dat werknemers in wetsterme die reg het om te staak, maar onder die omstandighede is die werkgewer onder geen verpligting om werkers wat deelneem aan nywerheidsaksie te betaal nie,” lees die vrystelling.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.