Miljoene der miljoene Namibiese dollar wat die regering as teenvoeter vir die onvoorsiene ontwrigtings van Covid-19 in veral onderwys en gesondheid moes inpomp, het tot ongematigde besteding van sowat N$1,1 miljard in die 2020-’21-begrotingsjaar gelei.

Dié ongematigde besteding vorm die grondslag van die ouditeur-generaal (OG), mnr. Junias Kandjeke, se gekwalifiseerde ouditmening van die regering se boeke vir die jaar geëindig 31 Maart 2021.

’n Gekwalifiseerde ouditverslag beteken die ouditeur-generaal is van mening die regering se boekhoubeginsels is onvanpas, onaanvaarbaar of onvoldoende.

Oorbesteding – ’n oortreding van die Wet op Staatsfinansies – beteken enige besteding wat die bedrag oorskry wat in die begroting aan ’n pos, hoofafdeling of subafdeling toegeken is. Die OG word ingevolge die wet verplig om elke oorbesteding in ’n gegewe boekjaar te vermeld.

Die regering se totale ongemagtige oorbesteding in 2020-’21 was bykans 60%, of N$657,7 miljoen méér as in 2019-’20.

ROOI SYFERS

Luidens die ouditeur-generaal se jongste verslag oor die regering se boeke het die ministerie van onderwys, kuns en kultuur in 2020-’21 sy goedgekeurde begroting met sowat N$623,3 miljoen oorskry. Gesondheid en maatskaplike dienste se oorbesteding was bykans N$366,6 miljoen.

Toe die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, sy 2020-’21-hoofbegroting op 27 Mei 2020 ter tafel gelê het, is amper N$14,19 miljard aan onderwys, kuns en kultuur toegeken. In sy hersiende begroting later die jaar, is dié bedrag na sowat N$14,5 miljard verhoog. Die ministerie het uiteindelik ongeveer N$15,14 miljard, of 4,3% méér bestee.

Gesondheid en maatskaplike dienste het sowat N$7,95 miljard in die 2020-’21-hoofbegroting gekry. In die hersiende begroting is dit na nagenoeg N$8,05 miljard verhoog. Die ministerie se finale besteding was ongeveer N$8,4 miljard, of 4,55% meer.

Die ouditverslag verskaf nie besonderhede oor waarop die bykomende miljoene bestee is nie. In sy hoofbegroting verlede jaar, het Shiimi egter aanduidings verskaf van die omvang van vereiste besteding in Namibië se eerste pandemiejaar.

Om die kapasiteit van die land se gesondheidstelsel te verhoog, het bykans N$723 miljoen gekos, terwyl sowat N$468 miljoen nodig was om skool- en koshuisgeriewe uit te brei, te herstel en op te knap.

ANDER SONDAARS

Buiten vir onderwys en gesondheid, het die volgende poste in 2020-’21 ook hul begrotings oorskry: Die kantoor van die president met sowat N$1 miljoen (of 0,2%); die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking (N$16,7 miljoen of 1,72%); myne en energie (N$5 319); sport, jeug en nasionale diens (N$1,98 miljoen of 0,74%) en staatsondernemings (N$92 miljoen of 11,37%).

Die ministerie van staatsondernemings (SOE’s) was in 2020-’21 veronderstel om net sowat N$809 miljoen te bestee, maar het uiteindelik bykans N$901 miljoen opgeslurp.

Die regering se totale salarisrol was sowat N$933 miljoen méér as die gemagtigde N$28,7 miljard in 2020-’21.

Die staat se rekenkundige beamptes behoort ’n register te hê wat op datum is met hoeveel beplande besteding beloop, het die prokureur-generaal voorgestel. Sodoende sal oordraginskrywings tydig versoek word en ongemagtigde oorbesteding uitgeskakel word. Behoorlik opgeleide rekenmeesters en beter kommunikasie sal ook help, aldus Kandjeke.

Die rekenkundige beampte van die ministerie van finansies het in die verslag hierop gereageer en gesê Kandjeke se voorstel sal geïmplementeer word deur besteding “aktief te monitor”.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.