Die Grondverkryging- en Ontwikkelingsfonds het nie ’n aanvaarbare finansiële verslaggewingsraamwerk in plek om sy finansiële state voor te berei nie.

Die fonds wat in 2019 uitgesonder is vir swak rekordhouding en ’n gebrek aan waardasieverslae van die aankope van plase, het ook geen strategiese en jaarlikse plan die afgelope vier jaar gehad nie.

Die hoofdoelwitte van die fonds is om voorsiening te maak vir die verkryging van landbougrond deur die regering vir grondhervorming, asook die verspreiding daarvan aan Namibiese burgers “wat nie landbougrond besit of andersins die gebruik daarvan het nie en veral vir dié burgers wat as gevolg van diskriminerende wette en praktyke in die verlede, maatskaplike, ekonomies of opvoedkundig agterweë gelaat is”. Die fonds val onder die ministerie vir landbou, water en grondhervorming.

In sy verslag oor die stand van die fonds vir die finansiële jare 2018 tot 2021, sê die ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, die finansiële state weerspieël “in alle materiële aspekte nie sy finansiële posisie en kontantvloei” vir die betrokke tydperk nie. Uitgawes in die onderskeie kategorieë is nie reg geklassifiseer nie, terwyl ’n vraagteken ook hang oor miljoene in beweerde grondbelasting wat uit bankstate getrek is en nie soos vereis uit opgawes vir grondbelasting nie.

Ouditeure kon dus nie bevestig of die N$12, 4 miljoen in 2018, N$19,4 miljoen in 2019, N$10,1 miljoen in 2020 en N$10,1 miljoen in 2021 wel reg oorgedra is nie.

Die huurinkomste vir al die finansiële jare onder oorsig is ook verkeerdelik op ’n kontantbasis in plaas van die aanwasgrondslag aangeteken.

Kwitansies van debiteure is as ’n inkomste aangeteken, pleks daarvan dat dit by hul rekening afgetrek is. Die aankope van ’n plaas van byna N$8 miljoen vir die 2018-finansiële jaar, het ook verkeerdelik in 2019 se boeke beland.

Die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge het beamptes van die fonds in 2019 voor stok gekry oor hul boeke nie geklop het. Die fonds se waarnemende direkteur in 2019, me. Ndiyakupi Nghituwamata, moes toe erken beamptes het verkeerde inligting aangeteken wat verband hou met die plase wat die regering vir hervestigingsdoeleindes gekoop het.

Dokumente wat onder meer soek was, was waardasieverslae vir die aankoop van plase met ’n totale waarde van N$102 miljoen. Die datums waarop die plase gekoop is, asook die grootte van die plase was ook nie bekend nie.

Nghituwamata, wat nou diens verrig as die uitvoerende direkteur van grondhervorming, het erken die fonds se boekhouding is swak, met die onderafdeling vir finansies wat verskeie foute in die aantekening van inligting gemaak het.

Die fonds se bates het volgens die jongste ouditverslag van N$36,4 miljoen tot N$108,5 miljoen gestyg. Inkomste uit grondbelasting het van N$20,8 miljoen in 2017 tot N$10,1 miljoen verlede jaar gedaal. Dié inkomste word verkry uit belasting wat gehef word op alle kommersiële plase en word onder meer bepaal deur plaaslike of buitelandse eienaarskap.

Die verkryging van plase in 2017 het die fonds N$236,9 miljoen uit die sak gejaag en verlede jaar N$81,1 miljoen. ’n Studie oor die aanvraag na grond is vir drie jaar en midde die pandemie gedoen, met die fonds wat in 2019 sowat N$880 000, N$777 333 en verlede jaar N$1,1 miljoen daarvoor moes betaal.

Meer as N$2,1 miljoen is ook verlede jaar aan “plaasveiligheid” bestee. In 2017 was dié bedrag N$9 miljoen.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.