Terwyl beleggings deur beesprodusente in Savanna Beef Namibia (SBP) Vrydag op ’n indrukwekkende N$169 miljoen, of bykans 85% aandeelhouding gesluit het, kan die eerste vleis onder dié handelsmerk dalk reeds teen vroeg volgende jaar bemark word.

Mnr. Diethelm Metzger, ondervoorsitter van die SBP-raad asook van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF), het gister in ’n onderhoud met Republikein gesê indien alles vlot verloop, is hy optimisties dat die Brukarros-abattoir reeds teen die einde van vanjaar of vroeg volgende jaar met werksaamhede sal kan begin.

EIE PROJEK

Oor hoe die ontwikkeling van Brukarros in die prentjie pas, benadruk Metzger: “Ek wil dit net duidelik stel: Brukarros is nie ’n Savanna Beef-projek nie. Dit is uit en uit ’n BVCF-projek.

“Die voordeel van die Brukarros-projek vir SBP – en ook die hoofrede waarom ons hierby betrokke is – is om ’n mark te beding en te ontwikkel wat die bedryf vroeër gaan betree en onder die Savanna Beef-handelsmerk sal kan verkoop.

“Dit is die hoofrede waarom ons hierdie doen – om vroeër in die mark te kan inkom.”

Metzger sê Brukarros is ’n gesamentlike onderneming tussen die BVCF en nog ’n party. Alhoewel hy nog nie wou sê wie die ander party is nie, het hy tog verklap dat die onderhandelinge reeds in ’n gevorderde stadium is.

“Ons het so ver gevorder dat ons nou al oor die finansiering onderhandel. Ons sakemodelle is bykans gefinaliseer. Daar is nog geen kontrakte geteken nie, maar dit is alles in wording. Dit is waar ons nou staan, wat Brukarros betref.”

Metzger sê daar word ook dikwels opgemerk dat Brukarros ver van die beesproduserende gebiede is.

“Die plan is om die beeste tot in Windhoek te laat ry en daarvan af sal Brukarros die vervoer oorneem. Dus lewer die produsent sy beeste net in Windhoek, waar hulle vir ’n tyd lank moet oorstaan as deel van ons uitvoerprotokol. Hulle mag nie te lank ry nie. Daarna hanteer die slagplaas verdere vervoer.

“Die ander ding wat belangrik is: Die Suide kom ook uit ’n droogte soos die res van Namibië. Dit het egter potensieel genoeg beeste om Brukarros teen volle kapasiteit te benut. Die ontwikkeling van Brukarros sal dus tot voordeel van beesprodusente in die Suide wees,” het hy verduidelik.

Hy sê hulle beoog om sowat 120 beeste per dag by Brukarros te slag, of sowat 22 000 tot 24 000 beeste per maand.

“Die idee is om Brukarros aan die gang te kry vir die bemarking van Savanna Beef. In die langtermyn sal dit ook ’n slagfasiliteit – soortgelyk aan Savanna Beef – vir boere in die Suide wees,” het hy gesê.

TWEEDE RONDTE

Dit volg ná daar tydens die tweede beleggingsvenster vir SBP, wat op 19 Augustus geopen het, in totaal 158 beleggingsaansoeke vir ’n bykomende N$23 miljoen ontvang is.

Altesaam 51 hiervan is bestaande aandeelhouers, terwyl 107 nuwe aansoeke is, het die BVCF in die sosiale media gesê, maar bygevoeg dat die tweede rondte nog “geoudit en gerekonsilieer” moet word.

Vóór die opening van die tweede beleggingsrondte, was daar nog sowat N$54 miljoen se aandele beskikbaar, met produsente wat toe reeds N$146 miljoen van die beskikbare N$200 miljoen opgekoop het.

PRODUSENTE SE VERTROUE

“Ons het met die opening van die tweede beleggingsvenster gesien dat ons regtig die vertroue van die boere het,” het Metzger, wat self ’n beesprodusent is, opgemerk.

“Dit is vir ons baie belangrik om nie dié vertroue te skend nie. Ons wend alle pogings aan om die regte dinge te doen – in belang van die beesbedryf en sy produsente.”

Hy sê hulle is bewus van die optimisme wat daar in die beesbedryf heers oor die nuwe verwikkelinge.

“Dit is ’n nuwe sakekonsep en tot dusver het boere nog nie gewaag om dit aan te pak nie. Ons was seker op die regte tyd op die regte plek en die regte klomp mense was saam om dit aan te pak.”

Hy het bygevoeg dat vandeesweek ’n belangrike een vir SBP is waartydens groot besluite geneem moet word.

“Daar is baie dinge aan die gebeur en baie besluite wat geneem moet word. Dit moet reg gedoen word en goed deurdagte en sinvolle besluite wees,” het hy gesê.

Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die SBP-raad en ook van die BVCF, het aangedui dat daar teen die einde van die week ’n mediaverklaring oor die nuwe verwikkelinge uitgereik sal word.

Die BVCF het in die sosiale media genoem dat hierdie “’n trotse prestasie is vir ’n uitvoerslag- en verwerkingsfasiliteit, in besit van Namibiese beesboere.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.