Namibië sit tans met leë hande sonder teengif vir slangbyte – met die slangseisoen wat reeds vandeesmaand afgeskop het.

Dít is weens ’n reuse-agterstand in die vervaardiging van teengif by die Suid-Afrikaanse Teengifvervaardigers (SAVP), ’n filiaal van dié land se nasionale gesondheidslaboratoriumdienste.

Buiten vir Namibië is verskeie Afrikalande insluitend Eswatini en Botswana ook van die SAVP vir teengif afhanklik.

“Ek is bitter, bitter bekommerd,” sê een van Namibië se voorste slangkenners, mnr. Francois Theart.

Volgens hom blyk dit daar is tans net sowat 100 ampules by die SAVP beskikbaar, met geen aanduiding wanneer die reuseagterstand uitgewis gaan word en produksie sal hervat nie.

Theart, wat vroeër ’n slangbytsimposium in Suid-Afrika bygewoon het, sê dit wil voorkom of ’n inspeksie by die SAVP gedoen is en bevind is sekere toerusting was nie volgens standaard nie”.

Die inspeksie hou verband met die vereistes vir Goeie Vervaardigingspraktyk (GMP). GMP is ’n stelsel wat seker maak produkte word voortgeset vervaardig en beheer volgens kwaliteitstandaarde.

“Die antwoord van SAVP by die simposium was dat ’n inspeksie uitgevoer is en toerusting opgegradeer moes word. Hulle wag nou vir finale goedkeuring.”

Hy het beklemtoon die fout lê geen­sins by Namibië nie en dat die GMP daar is om mense te beskerm.

“Die rompslomp vir die GMP is bietjie gelig en ons kan nou produkte sonder enige kwessies in die land kry. By ons is die GMP-kwessie opgelos en kan ons teengif inbring. Vir nou is ons hande egter afgekap.”

Theart sê in 2019 kon Namibië nog “hier en daar” teengif kry, maar nou blyk dit haas onmoontlik te wees.

Sou dit wel moontlik wees om ­dringend teengif uit die buurland te kry, speel tyd ’n geweldige belangrike rol.

“As ’n kind ná 17:00 op ’n Vrydag gepik word, hoe gaan dit op daardie dag in die land inkom? Ek twyfel of SAVP sy deure spesiaal vir dit gaan oopsluit.”

Hy beklemtoon egter al word die teengif laat toegedien, maak dit steeds ’n verskil.

Met verwysing na alternatiewe eerder as om van SAVP gebruik te maak, het hy gemaan dit is iets wat tyd neem.

“Die SAVP se teengif is soos goud en is die beste beskikbaar. Indië en Costa Rica vervaardig ook en die meerderheid wys positiewe resultate in ’n laboratorium. Klinies weet ons egter nie hoe dit vir ons sal werk nie. Resultate in ’n laboratorium beteken nie veel in die kliniese aspek van ’n hospitaal nie.”

Theart sê slange soos die Kaapse kobra en die Mosambiekse spoegkobra is ook nie op die Indiese lys nie.

Namibiërs wat nou gepik word, sal nou eerder simptomaties behandel moet word.

“Dis meer moeite en tyd en vir slange soos pofadders en mamba’s neem dit soveel langer. Jy behandel dus die simptome wat jy van die slangbyt kry. Vir ’n mamba plaas jy byvoorbeeld die persoon op ’n ventilator.”

Theart en ’n span vrywilligers is op bystand om Namibiërs te help wat slange teëkom, die slange te vang en dan elders vry te laat.

“Wat as een van ons gepik word, dis ‘terrifying’. Ek is baie bekommerd, as jy mense help met slange, waag jy jou lewe!”

Die ideaal is om ’n teengifbank vir Namibië te skep, maar burokratiese rompslomp en geen ondersteuning van die regering blyk vir jare reeds ’n stok in die wiel te wees.

“Ek het in 2018 al in die parlement hieroor gaan praat. Die voormalige minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, het ook hiervoor gedruk. Die doel is om ’n nasionale komitee te stig, maar ons het nie eers akkurate statistiek om te weet waar die meeste slangbyte voorkom nie.”

Theart maan Namibiërs om met die slangseisoen op hande, nie “dom goed” aan te vang nie.

“Moenie hulle probeer dood- of seermaak of vang nie, bel eerder iemand met kennis en ervaring om te help en wat die slang weer in ’n natuurlike habitat kan vrylaat en beskerm.”

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.