Die kabinet het die groenlig gegee dat die tydelike verlaging in brandstofheffings verleng mag word “tot tyd en wyl brandstofpryse beduidend tot op bekostigbare vlakke daal”.

Dit volgens die kabinet se besluitnemingsvergadering wat verlede week gehou is.

Dit is egter met uitsondering van brandstofbelasting van 90 sent per liter, maar geld wel vir die heffings deur die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor), die Namibiese Padongelukfonds (MVAF) en die Padfondsadministrasie (RFA).

Die minister van myne en energie het die versoek vir die verlenging van die laer heffings gerig.

Die kabinet sê dit neem ook kennis daarvan dat verskeie langtermynstrategieë vir die verkryging van brandstof ondersoek word, met die oog daarop om die situasie te verbeter en brandstofpryse in die land te stabiliseer.

VERLIGTING

Dit volg nadat ’n verlaging in heffings in Mei vanjaar – aanvanklik eers net vir drie maande – geïmplementeer is.

Toe is ’n 50%-daling vir beide die padgebruikers, asook in Namcor-heffings aangekondig. Die Padongelukfonds se heffing het met 25% gedaal, vanaf 50,3 sent per liter tot 37,72 sent per liter. Dit het ’n ­verligting van ’n rapsie meer as N$1,35 per liter vir die verbruiker beteken.

In dieselfde maand is brandstofheffings in Suid-Afrika ook met R1,60 per liter verminder.

Ondanks die laer internasionale olieprys en ’n oorverhaling in die pryse van petrol en diesel van onderskeidelik N$1,74 en N$1,17 per liter in Julie, het die ministerie vroeër aangekondig ­brandstofpryse sal in Augustus die pas markeer en nie afwaarts aangepas word nie.

Terselfdertyd het brandstofhandelaars voordeel hieruit getrek deurdat die handelaarsmarge met 50 sent per liter verhoog is en vulstasie­-eienaars se winsgrens dus van N$1,13 tot N$1,63 per liter toegeneem het. Sedert die brandstofprys die laaste keer in Julie vir die vyfde keer vanjaar gestyg het, kos ’n liter petrol 64,4% méér as in Julie 2021, terwyl ’n liter diesel 67,7% duurder is.

Petrol op Walvisbaai kos tans N$22,28 per liter, terwyl ’n liter diesel teen N$22,77 verkoop word. Dié pryse was verlede Julie ­onderskeidelik N$13,55 en N$13,58.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.