Slaan wanneer en waar dit die seerste maak. Dit was die kruks van ’n brief van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) aan hul lede wat beklemtoon “geen vrees, geen oorgawe, geen skikking en geen terugval” bly deel van hul strategie.

“As onderwysers moet ons strategies genoeg wees om die regte tyd te kies om te staak. Ons moet krities en strategies genoeg wees om ’n tyd te kies wat maak dat ons werkgewer ons eise verstaan,” het die unie se streeksekretaris vir inligting en publisiteit, mnr. VT Johannes, gesê.

“Sê ons staak môre, sal dit regtig ons werkgewer selfs ’n duim laat beweeg? Ek dink julle weet wat ek sê.”

Volgens Johannes bly die impak van die stakings soos dit is – beide produksie en nasionale dienste moet tot stilstand ruk.

“Ons ekonomie wat reeds in ’n benarde situasie is, gaan binne die eerste 30 minute ná die aanvang van ons wettige staking verkrummel. Die regering gaan beslis ons staking ‘tsunami’ tot op die been voel.”

Volgens Johannes sal die onderhandelingspan nou na die kantoor van die eerste minister gaan met die uitslag van die stemmery om tot ’n staking oor te gaan. Weer sal die wense en verwagtinge van staatsamptenare aan die regering uitgestip word.

Sou die regering steeds aandring op sy aanvanklike posisie van geen verhoging, sal die unie dit ’n ongespesifiseerde kort tydperk gee om “weer daaroor te dink”. Sou dié tydperk sonder enige positiewe nuus aan die kant van die regering verstryk, sal die vakbond gevolglik geen ander keuse hê om dit ’n verdere en ten minste 48 uur te gee om sy besluit van geen verhogings te heroorweeg nie. Intussen sal die betrokke partye reëls vir die beplande staking vasstel.

“Hulle (regering) gaan die geen werk-geen betalingreël oorbeklemtoon, maar ons moenie bang wees nie. Omdat die staking nie spontaan geïmplementeer word nie, moet die regering steeds voldoen aan die finansieswet en tesourie-instruksie wat in plek is. Dissiplinêre maatreëls is ’n onderwerp van onderhandeling.”

Volgens Johannes mag die reël van geen werk-geen betaling gebruik word om te onderhandel soos tydens die staking in 2016 en waartydens geen aftrekkings gemaak is nie. Sou onderwysers (met stakingsreëls in plek) oorgaan tot ’n staking, duur dit totdat die regering aan staatsamptenare se eise voldoen.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.