Namibië se uitvoere van beesvleis het tydens die eerste ses maande van die jaar met ʼn reuse 98% gegroei, met altesaam 5 100 ton vleis wat uitgevoer is.

Altesaam 45% van alle beeste wat plaaslik bemark is, is by abattoirs geslag, terwyl die uitvoere van lewende beeste met 2% verminder het.

Dit is waarskynlik aangehelp deur die feit dat die gemiddelde karkasprys N$61,06 per kg was, vergeleke met N$52,37 per kg ʼn jaar gelede.

Dit kom neer op ʼn prysverhoging van 16,59%, het die Vleisraad van Namibië in hul jongste nuusbrief gesê. Die jongste syfers is soos op 22 Julie.

Die algemene bemarking van beesvleis het op ʼn jaar-op-jaar-basis met 20% tydens die eerste helfte van 2022 verbeter.

Die bemarking van skaap toon ook herstel en het met 40% toegeneem, wat beteken 327 000 skape is in die eerste ses maande van vanjaar bemark. Verlede jaar dieselfde tyd het die syfer op 233 880 gestaan.

Terselfdertyd het die bemarking van bokke ook met 8% gegroei, wat beteken 55 000 bokke is in die eerste ses maande van vanjaar bemark teenoor 50 898 gedurende verlede jaar dieselfde tyd.

FOKUS OP JUNIE

Teen einde Junie is altesaam 121 555 beeste vir 2022 bemark, vergeleke met 101 016 verlede jaar dieselfde tyd. Dit blyk ook dat 66 963 beeste na Suid-Afrika uitgevoer is, vergeleke met 56 118 verlede jaar dieselfde tyd.

Daarteenoor is 54 293 beeste teen Junie vanjaar geslag, terwyl die syfer verlede jaar dieselfde tyd op 43 333 gestaan het. Uitvoer-abattoirs se aandeel in die bedryf het ook jaar op jaar van 24 400 tot 39 127 gegroei.

VLEISPRYSE

Intussen blyk dit dat slagpryse onlangs effens begin daal het, met plaaslike uitvoerabattoirs wat in die week van 25 Julie tot N$60 per kg vir beeskarkasse betaal het.

Meatco het in Windhoek tussen N$54 en N$60 per kg vir A-en B-graad betaal, en Beefcor N$56 tot N$57 per kg.

Vir C-graad het Meatco tussen N$54 en N$56 per kg in Windhoek betaal, terwyl Beefcor N$54 per kg betaal het.

Op veiling het produsente tussen 18 en 22 Julie N$35,99 per kg vir tollies gekry, terwyl daar gemiddeld N$32,73 per kg vir verse betaal is.

Stoorosse en stoorverse se gemiddelde prys was onderskeidelik N$29,54 en N$29,61 per kg, terwyl slagosse en –verse se pryse onderskeidelik N$28,89 en N$28,14 per kg was.

Skape se pryse was N$39,13 per kg vir vetsterte en N$38,72 per kg vir Dorpers.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.