Nuus oor die groot verhoging in die prys van diesel wat vannag net ná middernag in werking tree, is gister met kommer deur veral die vervoer- en logistiekbedryf asook die landboubedryf ontvang.

Die ministerie van myne en energie het gisteroggend aangekondig die dieselprys styg môre met N$1,98 per liter. ‘n Liter diesel sal dan N$24,10 per liter op Walvisbaai kos. In die res van die land sal dit meer wees. Om voortaan in Windhoek ʼn voertuig met ‘n 60 liter-tenk vol te maak, sal die eienaar sowat N$1 500 uit die sak jaag.

Die petrolprys bly onveranderd.

In die begin van die jaar kon ‘n mens nog by die kus diesel teen N$15,58 per liter koop. Teen Maart was die prys N$17,28 en in April het dit met die grootste verhoging vir die jaar tot nou toe gestyg, en het die verhoging van N$2,95 per liter die prys van diesel tot N$20,23 per liter opgestoot.

Junie se prys was N$22,77 per liter voor dieselpryse in September ʼn welkome daling beleef het en met 65 sent per liter teruggesak het. Petrolpryse het in Oktober met N$1 per liter gedaal.

Die jongste verhoging sal ‘n impak op Namibië se staatmaker-nywerhede hê en uiteindelik die finansieel kwesbaarste mense swaar tref.

Volgens mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die land se grootse vervoergroep, FP du Toit Transport, sal baie van die verhoogde vervoerkoste na die verbruiker deurvloei. Namibië is grootliks afhanklik vanaf invoere uit Suid-Afrika, waaronder voedselprodukte, toerusting en farmaseutiese produkte.

Die hoër insetkoste vir vervoer- en logistieke maatskappye beteken die verbruiker sal meer moet betaal, sê hy.

“Ek meen, wat kan ek sê? Ons kan niks daaraan doen nie. Dit is die ministers wat besluit en ons moet dit aanvaar. Ons sal fokus op wat ons kan doen, naamlik om koste deur doeltreffendheid te besnoei. Dit sluit in doeltreffender brandstofverbruik en die volle benutting van vragte,” sê hy.

“Dit is baie slegte nuus,” sê hy, “maar ons moet maar die beste van ʼn slegte saak maak.”

Boere sal ook moed moet hou, veral akkerbouers vir wie die voorbereiding- en plantseisoen vir witmielies gedurende November en Desember aanbreek, sê mnr. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU).

Hy voorsien ʼn geweldige negatiewe impak op die landboubedryf.

“Die vorige maand was daar ook ʼn prysverhoging en dit het ‘n negatiewe invloed op boere se insetkoste,” het hy verduidelik.

Ook lewendehaweprodusente sal byvoorbeeld duurder moet betaal om diere by veilings of abattoirs te kry.

“Nog ‘n voorbeeld is die lekke soos fosfaat vanaf Suid-Afrika,” sê hy oor die hoër produksiekoste.

In terme van mynbou het die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van Mynwese, mnr. Veston Malango, sy kommentaar weerhou tot die verhoging by hul ekonomiese vooruitskattingsmodel bygewerk is.

Volgens die ministerie het die internasionale prys van diesel tussen 1 Oktober en 21 Oktober vanaf US$135,5 per vat tot US$142,9 per vat geklim. Hierdie US$8 verskil is baie groter as die US$2 verskil tussen die begin van die maand se petrolprys en die prys op die een-en-twintigste. Verder het die waarde van die Namibiese dollar teenoor die Amerikaanse dollar verswak tot NS$18,08 ‘n Amerikaanse dollar, vanaf N$17,58 aan die begin van die maand.

Heffings vir die Namibiese Padongelukkefonds (MVAF) en dié vir padverbruikers is ook op 5 Oktober weer ingestel. Volgens die ministerie het hy ‘n oorverhaling van 13 sent per liter op petrol ingesamel, maar ‘n verlies van N$2,60 per liter op diesel gehad, wat die prysverhoging noodsaak.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.