Die eienaars van kommersiële landbougrond wat teen gister nog nie hul korrekte grondbelastingaanslae van die ministerie van landbou, water en grondhervorming ontvang het nie, sal nie vir láát betalings gepenaliseer word nie.

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongste nuusbrief is hieroor ooreengekom tydens die unie se besoek verlede week Maandag aan Namibië se waardeerder-generaal, Rudolf !Nanuseb.

Geen amptelike aankondiging is egter tot dusver hieroor gemaak nie.

Die NLU sê die unie het verlede Maandag met !Nanuseb in gesprek getree oor die probleme wat NLU-lede steeds ondervind om die regte aanslae vir grondbelasting vanaf sy kantoor te bekom. !Nanuseb het toe ook gesê geen verdere aansoeke om kwytskelding sal meer ná die sperdatum van 31 Oktober aanvaar word nie.

Dit volg nadat die sperdatum vir die betaling van grondbelasting vir die boekjare 2017-’18 en 2018-’19 intussen reeds tot 31 Desember vanjaar uitgestel is – om veranderinge in terme van die belastingkoers te maak.

Tot dusver is daar nie enige uitstel vir die betaling van grondbelasting vir die ander boekjare aangekondig nie.

Dit volg ná die ministerie onlangs in ’n onderhoud met Republikein gesê het beide die stelsel vir die druk van belastingaanslae (Land Tax Assessment Printing System) asook die gerekenariseerde titelakte-registrasiestelsel (CDRS) van die ministerie van landbou, water en grondhervorming het onlangs skade gely.

Die ministerie het in ’n mediaverklaring op 20 Junie vanjaar aangedui ’n kragonderbreking het daartoe gelei dat een van sy bedieners ineengestort het. Dié bediener word vir die CDRS, die grondbelastingstelsel wat die aanslae druk asook vir e-posse gebruik.

Om die korrekte aanslae aan kommersiële boere te stuur, werk die ministerie nou saam met ’n konsultant, het die ministerie gesê.

Intussen het !Nanuseb wéér nuwe name en kontakbesonderhede aan die NLU gegee vir e-poskorrespondensie met sy kantoor vir versoeke vir uitstaande of korrekte aanslae, asook administratiewe regstellings of die opdatering van plaasinligting.

Tulonga Neliwa (Tulonga.Neliwa@mlr.gov.na), Sharon Nekwaya (Sharon.Nekwaya@mlr.com.na), Else van Wyk (Else.Vanwyk@mlr.gov.na) en Isaskar Iimvula (Isaskar.Iimvula@mlr.com.na) kan gekontak word.

’n Boer het die afgelope week aan Agri Monitor gewys dat drie e-posse sedert Junie vanjaar na die kantoor van die waardeerder-generaal geen reaksie ontvang het nie.

Die boer het ook herhaaldelik gebel sonder dat sy oproepe beantwoord is. Daar is foute op sy aanslae, terwyl hy net ’n enkele jaar se aanslag ontvang het.

“Die NLU bly in noue skakeling met die kantoor van die ministerie van landbou, water en grondhervorming om sy lede se belange te dien. Lede kan enige tyd die NLU se kantoor vir verdere inligting of hulp kontak,” het die NLU gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.