Die feit dat Meatco nie meer die enigste beesvleis-uitvoerabattoir is nie met private toetreders, skaapvleis-uitvoer wat vanjaar nog na Noorweë gaan realiseer en toenemende uitvoergeleenthede van teeldiere na buurlande, het Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou Unie (NLU), as positiewe ontwikkelinge voorgehou in sy voordrag op die Lewendehawe Produsente Orga­nisasie (LPO) se kongres.

Hy het gewys op die mededingingsvoordeel van meer ­private rolspelers in die beesvleisuitvoermark wat doeltreffendheid na­streef met ’n kleiner skaalbesparing. “Daarby bevind die skaap­bedryf hom nou in ’n gediversifiseerde markomgewing sonder uitvoerbeperkings wat winsgewende oorsese vleisuit­voer moontlik maak. Dit stimuleer op sy beurt produksie om eers­daags weer 1 miljoen skape per jaar te bemark. Voorts het uitbrekings van bek-en-klouseersiekte in Suid-Afrika en toe grense tot gevolg dat telers in ander buurlande hulle nou na Namibië wend om genetika te bekom.”

Dit het Roelie gebring by wat nodig is vir bedryfsgroei in Nami­bië as ’n netto-vleisuitvoerland deur die LPO se hooffokus op ses kernpunte uit te lig, naamlik regverdige kompetisie tussen waardekettings, langtermyn-beleidsekerheid, die handhawing van ’n hoë dieregesondheidstatus vir voortgesette uitvoer, aggressiewe beleggings in die herstel van weiveld, die herwinning van vertroue in die uitvoerabattoir-waardeketting en verhoogde opbrengs per hektaar.

Daarmee saam het hy die behoud van die drie bene – uitvoer­abattoirs, plaaslike verbruik en die uitvoer van lewende diere – wat die pot regop hou, beklemtoon om te verseker dat primêre produkte outomaties aangetrek word na die winsgewendste markte.

Roelie het daarop gewys dat meer as 60% van die land se vleisprodukte uitge­voer moet word weens lae binnelandse verbruik van sowat 15 000 ton beesvleis en 5 000 ton skaap­vleis. In 2021 het Namibië 5 458 ton beesvleis uitgevoer na die EU-mark, Noorweë, die VSA en China.

[Bron – AgriForum Namibia]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.