Die bemarking van skaap tydens die eerste kwartaal van 2023 het ’n sterk oorhoofse groei van 46,8% getoon.

Dit is ’n beduidende verbetering op verlede jaar se groeisyfers.

Volgens die Vleisraad van Namibië het uitvoerabattoirs ook hul deurset tydens die eerste kwartaal verdriedubbel en spog die sektor met ’n groei van 385,7%. Dit word toegeskryf aan die feit dat produsente gunstig gereageer het op die goeie pryse wat deur die abattoirs aangebied is.

Die Vleisraad sê buiten vir die slagbedryf, het groei binne al die segmente van die skaapsektor voorgekom, met altesaam 163 547 skape wat in die eerste kwartaal van die jaar bemark is. Daarteenoor is 111 374 skape verlede jaar oor dieselfde tydperk van die hand gesit.

“Die uitvoere van lewende skape het op 118 853 in die eerste drie maande van die jaar gestaan, terwyl die syfer ’n jaar vantevore op 87 081 gestaan het. Dit verteenwoordig ’n sterk groei van sowat 36,5%.

“Ten spyte van die groei het die mark vir uitvoere van lewende skape 5,5% van sy aandeel in die sektor verloor,” het die Vleisraad in sy jongste maandelikse oorsig van die nasionale vleisbedryf aangedui.

Tot soveel as 99,6% van al die skape wat uitgevoer is, het na Suid-Afrika gegaan, terwyl die oorblywende 0,4% vir Angola, Botswana en Zambië bestem was.

VERSLAGTING BEGIN WEER

Die hervat van slagbedrywighede deur Farmers Meat Market by die Mariental-abattoir het goeie resultate vir die slagbedryf gelewer. Altesaam 24 360 skape is by plaaslike abattoirs geslag wat goedgekeur is vir uitvoere.

Daarbenewens het hierdie plaaslike abattoirs selfs beter pryse as hul eweknieë in die Noord-Kaap tydens die eerste maande van die jaar betaal – sowat N$4,66/kg meer vir A2-grade.

Dit kom danksy die feit dat die Namibiese skaapsektor sy vleis in die Noorweegse mark kon verkoop, wat ’n groot bydrae maak tot beter karkaspryse vir produsente.

BOKKE, VARKE

Daarbenewens het die bemarking van bokke met 13,5% tydens die eerste maande van die jaar gedaal. In totaal is sowat 20 046 bokke in die eerste kwartaal van die jaar bemark, vergeleke met sowat 23 184 bokke oor dieselfde tydperk in 2022.

Die Vleisraad sê die lewende uitvoere van bokke het ook met sowat 15% gedaal, met net sowat 19 616 bokke wat uitgevoer is teenoor die 23 077 in verlede jaar se eerste kwartaal.

“Van al die bokke wat tydens die eerste kwartaal van die jaar bemark is, was 97,9% lewende uitvoere, terwyl B- en C-klas abattoirs sowat 2,1% van die bokke geabsorbeer het.

Die bemarking van varke het egter ’n verbetering van 1,6% teenoor verlede jaar getoon, met sowat 11 111 wat in die eerste kwartaal van die jaar by geregistreerde abattoirs geslag is teenoor verlede jaar se 10 935.

Die Vleisraad sê tydens die eerste vier maande van die jaar het plaaslike varkprodusente in 31,5% van die plaaslike vraag na varkvleis voorsien, en invoere in 68,5%.

Altesaam 2,2 miljoen kg varkvleis is van Duitsand, Spanje, die Europese Unie en Suid-Afrika in die eerste kwartaal van die jaar ingevoer.

[Bron – Rebublikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.