Die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) het aangekondig hy sal in die komende dae openbare konsultasies hou om beweringe te ondersoek dat Namib Mills asook Namib Poultry Industries (NPI) die wet op mededinging oortree.

Volgens die kommissie is “inligting ontvang” dat dié instansies sekere pluimveeprodukte een kant hou vir uitgesoekte en meer gevestigde kliënte, terwyl hulle glo weier om dit aan nuwe marktoetreders, spesifiek mikro-, klein- en mediumgrootte ondernemings (MSME’s), te verkoop.

Intussen het Cameron Kotzé, bestuurder van risiko en nakoming by Namib Mills, aan Republikein gesê die instansie is nie bewus daarvan dat hulle aan enige een gesê het hulle gaan nie die produkte aan hulle lewer nie.

Die produkte ter sprake, waarna as tersiêre reeksprodukte verwys word, sluit in pakke sop, ingewande, hoendernekke (in grootmaat), harte, mae, voorafverpakte nekke, koppe en voete, skoongemaakte voete, bakkies lewer, mala, lewer in grootmaat en borsbene.

“Ons het nie so ’n beleid nie. Daar mag geleenthede wees waar ons gesê het ons sal nie hierdie produkte kán lewer nie. Daar is ’n verskeidenheid produkte wat in hierdie kategorie val en soms het ons nie beskikbaar om te lewer nie,” het Kotzé gesê.

Hy het bygevoeg hulle was verbaas om die kommissie se mediaverklaring te sien.

“Die laaste kontak wat ons met die kommissie gehad het, was toe ons in Desember ’n verslag oor dié kwessie moes indien. Ons het dit gedoen en ten alle tye ons samewerking gegee.

“Ons is al ’n geruime tyd met die kommissie in gesprek oor die saak en het alle dokumente voorgelê waarvoor hulle gevra het,” het Kotzé bygevoeg.

KONSULTASIES

Die NaCC het in ’n mediaverklaring wat láát Woensdagaand uitgereik is, die openbare konsultasiesessies met MSME’s aangekondig en ook ’n uitnodiging gerig aan alle rolspelers wat daarin belangstel – insluitend verbruikers, die invoerders van pluimveeprodukte, uitvoerders, handelaars asook verspreiders – om op eie stoom met die kommissie in verbinding te tree.

Die kommissie sê die konsultasies vorm deel van ’n ondersoek om vas te stel of Namib Mills en NPI afdeling 33 van die Mededingingswet nr. 2 van 2003 oortree. Die NaCC het glo reeds in Junie 2022 besluit om die saak te ondersoek.

Daar word verder beweer dat Namib Mills en NPI dié mark oorheers.

Die NaCC sê die openbare konsultasies met MSME’s gaan daaroor om hul insette vir die ondersoek in te samel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.