Tuyeimo Haidula – Ses staatsamptenare wat na bewering kos gesteel het wat vir droogtehulp bestem was, is verlede week borgtog geweier en hul saak tot 2 April vir verdere ondersoek uitgestel. Die beskuldigdes het glo die kos uit ’n pakhuis in Oshikango in die Ohangwenastreek gesteel.

Die verdagtes is Minna Uukule (33), Jeipo Delany Hilongwa (42), Nehemia Shoovaleka (36), Gerrie van Wyk (42), Fillemon Shikongo (44) en Simon Joseph (33).

Volgens die goewerneur van die Ohangwenastreek Sebastian Ndeitunga, het die beweerde diefstal tot ’n agterstand in die verspreiding van droogtehulp in die streek se kiesafdelings gelei. Volgens Ndeitunga werk die streeksraad egter onverpoos om te sorg dat die agterstand weer uitgewis word.

Tydens ‘n uitreikingsveldtog deur die leierskap van die streek in Epembe verlede week, het lede van die gemeenskap hul misnoeë met die verspreiding van droogtehulp duidelik te kenne gegee.

“Dit was nie net Epembe nie. Verskeie kiesafdelings het hul kommer laat hoor en ons werk daaraan. Ons sal ons bes probeer om seker te maak dat geen lewe verloor word weens ’n gebrek aan voedsel nie en dat dié wat dit die meeste nodig het na omgesien word,” het Ndeitunga gesê.

Die eerste minister se kantoor wat die droogtehulp fasiliteer, het in ’n verklaring die beweerde diefstal van droogtehulpvoedsel as kommerwekkend beskryf. Woordvoerder Rhingo Mutambo het die publiek afgeraai om dié voedsel te koop en aangemoedig om dadelik die polisie in kennis te stel indien vermoed word dit word verkoop

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.