Ellanie Smit – Die aantal beeste wat by uitvoerabattoirs geslag word, sal na verwagting vanjaar styg, hoewel dié syfers in Desember gedaal het.

Dit volgens die Raad vir Lewende hawe en Lewendehaweprodukte (LLPB), voorheen bekend as die Vleisraad, se Market Watch-uitgawe vir Desember.

Vergeleke met November het uitvoerabattoirs ’n afname in Desember aangeteken weens sluitings as gevolg van die feesseisoen.

In Desember is ’n afname van 34,5% aangeteken in die aantal beeste wat by uitvoerabattoirs geslag is.

Volgens die LLPB neem die bemarking van beeste tydens die feesseisoen af, ’n seisoenale gebeurtenis wanneer die lewende uitvoer en slag van beeste se getalle weens verminderde aktiwiteit afneem.

Die aantal beeste wat by dié abattoirs geslag word sal na verwagting weens die hervatting van dienste by die Rundu-abattoir toeneem.

Die LLPB sê die uitvoer van beeste op die hoef het in Desember met 57,46% gestyg van die 15 902 wat die vorige maand uitgevoer is.

Die uitvoer van lewende hawe was egter 15,64% laer as ’n jaar gelede. Beeste – oorwegend speenkalwers – is na Suid-Afrika (95%) en Angola (4%) uitgevoer, met die oorblywende 1% wat tussen Botswana en Zimbabwe verdeel is.

Die meerderheid van die beeste wat na buurland Suid-Afrika uitgevoer is, is na voerkrale gestuur, terwyl uitvoere na die res van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) vir teeldoeleindes uitgevoer is.

Die LLPD sê in totaal is 151 808 beeste in 2023 uitgevoer, wat 8,73% meer is as in 2022.

Intussen het die pryse van speenkalwers met N$3,58 per kg gestyg van die November-prysvlak van N$27,11 per kg tot N$30,6 per kg in Desember.

Veilingspryse van speenkalwers het sedert Januarie verlede jaar ’n voortgesette afwaartse neiging getoon, met pryse wat van N$37,12 per kg tot die laagste prys van N$23,48 per kg gedaal het wat in Junie ontvang is.

Pryse het beduidend suide van die veterinêre kordonheining (VCF) en noord van die VCF gestyg, met pryse suid van die VCF wat op ’n maand-tot-maand-basis met 13,2% gestyg het.

“Speenkalfpryse van noord van die VCF het ook veral ’n verhoging in tolliepryse gehad, met ’n styging van 33,87%.”

Ten spyte van die prysverhoging is die aangetekende Desemberprys 19,6% laer as ’n jaar gelede.

Uitvoer-abattoirs het egter ten minste 48% meer as in 2022 geslag. Dit sluit Desember-data vir abattoirs in die noordelike kommunale gebiede uit.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.