Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het gesê die Affirmative Repositioning (AR)-aktivis, dr. Job Amupanda, het die omstandighede vir sy regsaksie waarin hy ’n hofbevel aanvra om die Rooilyn te laat verwyder, self geskep.

Dit volgens Schlettwein se beantwoordende beëdigde verklaring wat vandeesweek ingedien is en waarin hy verklaar dat hy ook gemagtig is om dié verklaring af te lê namens die regering, prokureur-generaal, mnr. Festus Mbandeka, en ’n amptenaar in die direktoraat van veeartsenydienste, mnr. Hango Nambinga – wat ook as verweerders in die saak gelys word.

Amupanda het op 26 Mei verlede jaar ’n saak aanhangig gemaak waarin hy ’n hofbevel aangevra het om die veeartsenykordonheining (VCF), ofte wel die Rooilyn, te laat verwyder en as onwettig en ongrondwetlik te laat verklaar.

Schlettwein sê Amupanda het doelbewus met rou vleis by die Oshivelo-kontrolehek in die VCF opgedaag en die veeartsenybeamptes gevra om dit te konfiskeer om sodoende die feite kunsmatig te skep om dié regaksie te regverdig.

Hy sê sedert 2005 het die maatreëls wat die verspreiding van dieresiektes van noord na suid oor die VCF beheer, Amupanda nooit genoeg gepla om hierdie aksie in te stel nie.

“Nou, uit die bloute, 16 jaar later, stel die eiser hierdie aksie in om die Namibiese regering in die verleentheid te stel, en om hierdie hof te misbruik om deur litigasie te bereik wat hy nie in die politieke arena kan bereik nie.”

Schlettwein sê wanneer die rookskerm van Amupanda se saak vervaag, bly sy kerndoelwit om die VCF te verwyder agter.

“Die eiser is nie in staat om hierdie doelwit in die politieke arena te bereik nie. Hy poog nou om hierdie hof te misbruik om sy politieke doelwit te bereik.”

Schlettwein het voorts gesê as, hoe en wanneer die VCF verwyder moet word, val binne die uitvoerende en wetgewende administrasie van die regering en buite dié van die regbank.

“Vanuit hierdie perspektief is daar niks in hierdie saak wat die persoonlike politieke belange van die eiser oortref nie.”

Schlettwein het verder beklemtoon dat dit nie in die openbare belang is om die VCF skielik te verwyder nie.

“Sodoende sal hierdie hof – met respek – die bevoegdhede van die uitvoerende of wetgewende liggame van die regering van die Republiek van Namibië oorneem of onbehoorlik inmeng in stryd met die verdeling van magte tussen die uitvoerende, wetgewende en regterlike liggame van daardie regering – ingevolge die Namibiese Grondwet.”

Hy het beklemtoon dat Amupanda hierdie litigasie bedink het om sy politieke agenda te bevorder, wat onlosmaaklik verbind is met dié van sy politieke party.

In sy eisbesonderhede beskryf Amupanda die oprigting van die Rooilyn as ’n wrede, skandelike en drakoniese beleid wat poog om diskriminasie teen mense en hul vee wat noord van die Rooilyn woon, te handhaaf.

Amupanda hou vol dat hy vee noord van die Rooilyn by die dorp Omaalala besit en sê hy maak staat op die landbouprodukte wat geproduseer word om sy gesin te voed.

Volgens Amupanda is diereprodukte ter waarde van N$1 000 op 17 Mei onwettig by hom by die Oshivelo-kontrolepunt by Nambinga gekonfiskeer.

Amupanda sê die Rooilyn is ongrondwetlik omdat dit as ’n koloniale struktuur opgerig is, omdat daar geen Namibiese wet is wat dit goedkeur of daarvoor voorsiening maak nie en omdat geen rasionele doeleindes daarmee verbind kan word nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.